Uitstaande atletiek by Menlopark ten spyte van die reën
Hoewel reën en gevaarlike weerlig Menlopark se jaarlikse uitnodigings-atletiekbyeenkoms verlede week kortgeknip het, was daar steeds puik prestasies in beide baan- en veldites.
Die Hoërskool Menlopark het verlede Vrydag hul jaarlikse atletiek uitnodigingsbyeenkoms vir die 31ste keer aangebied en uitstaande prestasies was oudergewoonte aan die orde van die dag.
Ses skole se atlete het op Menlopark se atletiekbaan gekompeteer. Die skole wat deelgeneem het was Pretoria Boys High, Pretoria Girls High, Hoërskool Montana, Hoërskool Monument, Pietermaritzburg en Distrikte en die gasheer, Hoërskool Menlopark.
Alhoewel reën en weerlig die aksie ongelukkig kortgeknip het, was daar tog agt items waarin atlete meer as ʼn duisend ABSA-punte verdien het.
Jean Botha van Monument was die top presteerder van die byeenkoms met sy afstand van 54.14 meter in die diskus item vir seuns onder 15. Dié prestasie was 1132 punte op die ABSA tabel werd.
Nog ‘n onder 15 seun, Kevin Locke van Menlopark, het 1080 punte verdien met sy wenpoging van 17,34 meter in die gewigstoot item.
Belinda Janse van Rensburg van Menlopark se poging van 43.0 meter in die diskus vir meisies onder 16 het 1057 ABSA punte verdien en van haar die beste meisiesatleet tydens die byeenkloms gemaak.
Ruzel Geldenhuys van Monument wen die gewigstoot vir meisies onder 15 met ʼn afstand van 13,51 meter, wat vir haar 1019 punte werd was.
Francois Oosthuizen van Menlopark het ook aandag getrek met sy poging van 50,56 meter (1016 punte) in die diskus vir seuns onder 15, terwyl nog ‘n Menlopark atleet, Lohan Potgieter, 1008 punte verdien het deur die gewigstoot vir seuns onder 17 met 17,76 meter te wen.
Op die baan was daar ook puik prestasies en hier het Thando Dlodlo van Hoërskool Monument veral uitgestaan met sy skitternede tyd van 20,57 sekondes (1042 puntye) in die 200 meter item vir seuns onder 19. Dis ‘n besondere prestasie op ‘n grasbaan.
Die 110 meter hekkies item vir seuns onder 17 het die toeskouers op die punte van hul stoele gehad toe Menlopark se Nsuku Baloyi en Michael Schoeman hul tweestryd hervat het. Schoeman het hierdie keer gewen met ‘n tyd van 14,30 sekondes met Baloyi kort op sy hakke in ʼn tyd van 14,40 sekondes.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

