Oos-Moot atlete presteer teen top skole
Hoewel die Oos-Moot Prestige atletiekbyeenkoms verlede week weens gure weer gestaak moes word, was daar tog ‘n paar kwaliteit vertonings voor die reën uitgesak het.
Die jaarlikse Oos-Moot Prestige atletiekbyeenkoms is verlede Vrydag by dié skool aangebied en hoewel die aksie deur reën en weerlig onderbreek is, was daar ook puik prestasies deur beide baan- en veldatlete.
Atlete van Hoërskool Oos-Moot het tydens die byeenkoms kragte gemeet met teenstanders van top skole soos Helpmekaar College, Prestige College, Hartbeespoort, Midstream College, Vorentoe en HTS John Vorster.
Chané van Zyl, ’n o.16-meisie van Oos-Moot was die skool se beste presteerder. Sy het die oë laat rek met haar skitterende pogings van 14,04 meter in die gewigstoot en 44,56 meter in die spiesgooi. Sy het met beide hierdie afstande meer as ’n 1 000 punte op die bekende ABSA-tabel verdien.
Danae Janse van Rensburg, Oos-Moot se nasionale ster-atleet, het weer drie oorwinnings behaal deur die diskus, gewigstoot en spiesgooi vir meisies o.17 te wen. Sy het die spiesgooi (41.89 meter), gewigstoot (14.56 meter) diskus (35.33 meter) gewen en 1 047 punte op die ABSA-tabel verdien met haar afstand in die gewigstoot.
Nog ’n atleet wat ’n prestasie kon lewer wat meer as 1 000 punte op die ABSA-tabel werd was, is Febe Wessels. Sy het die diskus-item vir dogters o.15 met ’n afstand van 37,08 meter gewen, wat 1 028 punte verdien het.
Ongelukkig het baie van die baan-items in die slag gebly weens die reën, maar daar was tog ’n paar uitstaande vertonings in die hekkieswedlope.
Ruan de Lange van Oos-Moot het hier uitgestaan met sy tyd van 13,83 sekondes in die 110m-hekkies vir seuns o.17.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
