Oos-Moot lyk reg vir komende B-bond interhoër
Enige skool wat hierdie week se Pretoria B-Bond interhoër wil wen sal eers met Oos-Moot moet afreken.

Die Hoërskool Oos-Moot se atlete het by verlede week se Noordvaal Groep 7 interhoër gewys dat hulle gereed is vir enige teenstand wat hulle in hierdie week se Pretoria B-bond interhoër mag kry.
Oos-Moot het met skole soos Rob Ferreira (Witrivier), Merensky (Tzaneen), Die Anker (Brakpan), Uitsig (Centurion), Curro Hazeldean (Pretoria-Oos), Southdown College (Centurion), Curro Serengeti (Kempton Park) en St. Stithians (Randburg) afgereken.
Die Moot-atlete het die byeenkoms boonop só oortuigend gewen, dat hulle 159 punte voor hul naaste teenstander (Rob Ferreira) geëindig het.
Hoewel die oorwinning ’n puik spanpoging van Oos-Moot se atlete was, het ’n paar van hul ster-atlete het weer kop en skouers bo die ander uitgestaan.
Febe Wessels van Oos-Moot het vir die beste prestasie van die dag gesorg toe sy die diskus vir meisies onder 15 met ’n reuse gooi van 38,15 meter gewen het. Dit was nie net 1 073 punte op die ABSA-tabel werd nie, maar ook meer as 10 meter verder as haar naaste teenstander – ’n besondere prestasie teen sulke goeie teenstand.
Danae Janse van Rensburg (meisies onder 17) van Oos-Moot het oudergewoonte ’n driekuns behaal in die gewigstoot, diskus en spiesgooi. Dit was veral haar poging in die gewisgtoot (14,04 meter) wat aandag getrek het.
Nóg ’n ster-veldatleet van Oos-Moot wat puik presteer het was Chane van Zyl, wat ’n tweekuns behaal het in die gewigstoot en spiesgooi. Sy het ’n reuse 1 035 ABSA-punte verdien met haar poging van 13,95m in die gewigstoot vir meisies onder 16.
Oos-Moot se spoedvraat, Marco Vorster, is nog ’n atleet wat hierdie week by die Pretoria B-bond interhoër kan aandag trek. Hy het ook ’n tweekuns in die naellope behaal (100 meter en 200 meter). Dit was veral sy tyd van 10.87 sekondes in die korter naelloop op die skool se grasbaan wat kenners laat regop sit het.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:








