Local sportSchool sportSport

Plattelanders maak skoonskip by C-bond interhoër

Ten spyte van die versengende hitte het die rekords gespat by die afgelope week se C-bond skole-atletiekbyeenkoms in die Pilditch stadion.

Vanjaar se C-bond atletiekbyeenkoms, wat Dinsdag in die Pilditch stadion in Pretoria-Wes aangebied is, kan maklik bekendstaan as die triomf van die “plattelanders” teen die “stedelinge”.

Die drie skole wat uit plattelandse gebiede rondom Pretoria gereis het om aan die byeenkoms deel te neem het daarin geslaag om die eerste drie plekke te behaal, terwyl die skole uit Pretoria se stedelike gebiede hulle op die telkaart moes volg.

Hoërskool Brits (2728 punte) het uiteindelik die byeenkoms gewen, gevolg deur Hoërskool Erasmus van Bronkhorstspruit (2552 punte) in die tweede plek en Hoërskool Harbeespoort (2537 punte) in die derde plek. Laasgenoemde het die byeenkoms ook met groot onderskeiding aangebied.

Die drie plattelandse skole is gevolg deur Curro College Hazeldean, Hoërskool Uitsig, Hoërskool Gerrit Maritz, Hoërskool Tuine en Hoërskool FH Odendaal.

HTS John Vorster is ook deel van die C-bond. Hul span het vyfde in die seuns-afdeling geëindig.

Uitstaande atletiek was aan die orde van die dag, soos bewys word deur die 19 byeenkomsrekords wat in die slag gebly het. Ten spyte van die feit dat die byeenkoms in baie warm weer afgehandel is, is verskeie van die nuwe rekords in baanitems aangeteken.

Die ster van die byeenkoms was Garrick Rees van Curro College Hazeldean. Hy het ‘n tweekuns in die 800 meter en 1500 meter vir seuns onder 14 behaal. Dit was egter sy rekordtyd van 2:02,6 in die 1500 meter wat gesorg het dat hy die enigste atleet was om meer as 1000 punte op die ABSA tabel tydens die byeenkoms te verdien. Dié tyd was 1085 punte werd.

Onder die meisies het Carlin Botes van Tuine die oog gevang. Sy het beide die gewigstoot en spiesgooi vir meisies onder 15 met rekord afstande gewen. In die spiesgooi was haar afstand van 38,84 meter 973 punte op die ABSA tabel werd, terwyl sy ook 900 punte verdien het met haar afstand van 12,33 meter in die gewigstoot.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button