Local sportSchool sportSport

Menlopark maak dit drie in ‘n ry by A-bond interhoër

Die Hoërskool Menlopark het Vrydag hul driekuns voltooi toe hulle Pretoria se A-bond atletiek interhoër die derde jaar agtereenvolgens gewen het.

Die Hoërskool Menlopark is wéér Pretoria se skole-atletiek A-bond interhoër kampioen, nadat hulle die  spankompetisie gewen het met ‘n totaal van 2492 punte.

Die Parkies is gevolg deur Prestige College van Hammanskraal met 2168 punte, terwyl Hoërskool Waterkloof derde was met 2070 punte. Daarna volg Hoërskool Garsfontein (2033 punte), Hoërskool Zwartkop (1993 punte), Hoërskool Montana (1834 punte) en Hoërskool Centurion (1472 punte).

Dit beteken dat Centurion volgende jaar terug sal wees in die B-bond, terwyl Hoërskool Oos-Moot in 2019 saam met die top skole in die A-bond sal meeding, nadat hulle Donderdag die B-bond gewen het.

Afrikaans Hoër Seunsskool (Affies) het al die ander skole se seunspanne uitgestof met hul totaal van 1371 punte, terwyl Afrikaans Hoër Meisieskool die afdeling vir meisies met 1352 punte gewen het. Dié twee skole neem egter onafhanklik deel en kompeteer dus nie in die spankompetisie nie.

Die A-bond interhoër van 2018 sal om meer as een rede vir lank onthou word.

Eerstens is daar natuurlik die puik atletiekprestasies deur sommige van die land se beste skole-atlete. Nie minder nie as 35 byeenkomsrekords het in die slag gebly by dié interhoër, wat grootliks op ‘n nat baan in die Pilditch stadion afgehandel is.

‘n Verstommende 45 atlete het daarin geslaag om prestasies te lewer wat meer as 1000 punte op die bekende ABSA tabel werd was.  Hierdie feit is byna ongehoord en bevestig dat atletiek in Suid-Afrika ‘n rooskleurige toekoms kan hê as die presteerders se loopbane reg bestuur word.

‘n Ontleding van die uitslae voorspel veral ‘n rooskleurige toekoms vir Suid-Afrikaanse atletiek in die velditems.

Drie atlete het daarin geslaag om 1200 punte op die ABSA tabel te verdien. Die merkwaardige hiervan was die feit dat twee van hierdie prestasies in die diskus item vir seuns onder 15 behaal is. Damian Oosthuizen van Affies se 55,84 meter in dié item was 1200 punte werd, maar hy moes steeds met die silver medalje tevrede wees. Hy is geklop deur Charl Ehlers van Menlopark wat óók 1200 punte verdien het met sy poging van 58,25 meter. Steeds is dit nie die einde van die atlete se prestasies in dié item nie. Jean Botha van Montana (54,56 meter, 1148 punte), Kelvin Locke van Menlopark (53,87 en 1122 punte), Carlo Brink van Affies (53,61 meter en 1113 punte) en Reinhardt Pretorius van Garsfontein (51,69 meter en 1015 punet) het almal meer as 1000 punte op die ABSA tabel behaal. Dit gebeur beslis nie aldag dat ‘n skole-atleet met só ‘n prestasie kan spog en steeds nie ‘n medalje wen nie. In hierdie geval het die seuns wat vierde, vyfde en sesde geëindig het, almal top klas prestasies behaal.

Die ander atleet wat 1200 punte op die ABSA tabel kon behaal is Ntando Mahlangu, die gestremde lemnaeler van Affies, wat die 800 meter vir seuns onder 16 met ‘n tys van 1:49,38 gewen het.

Die naellope het natuurlik oudergewoonte weer groot aandag getrek en die naam op almal se lippe ná die byeenkoms was Retshidisitswe Mlenga van Prestige College. Hy het nie net ‘n tweekuns behaal deur die 100 meter en 200 meter vir seuns onder 19 te wen nie, maar hy het albei wedlope in rekordtye gewen. Sy tyd in die 100 meter was ‘n verstommende 10.44 sekondes en in die 200m het hy deur die 21 sekonde grens gebreek met ‘n tyd van 20.88 sekondes.

Dis ook merkwaardig dat vier seuns in die 100 meter vir seuns onder 19 tye onder 11 sekondes kon aanteken.

Afrikaans Hoër Meisieskool se junior wêreldkampioen, Zeney van der Walt, het ‘n driekuns behaal en haar skool gehelp om die afdeling vir meisies te wen. Sy het drie byeenkomsrekords laat spat met haar vertonings in die 100m hekkies (13,80 sekondes en 931 punte), 400 meter (53,00 sekondes en 1024 punte) en 400 meter hekkies (56,05 sekondes en 1175 punte).

Vrydag se byeenkoms het ook uitgestaan vir die buitengewone voortreflike wyse waarop dit deur die gasheerskool, Hoërskool Waterkloof, aangebied is. Die Klofies het ‘n standaard gestel wat moeilik oortref sal word en selfs die sagte reën wat vir ‘n deel van die dag in Pretoria-Wes uitgesak het, het geen noemenswaardige invloed op die verloop van die verrigtinge gehad nie.

 

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button