Gemengde sukses vir Pretoria skole in spogreeks
Garsfontein se kanse om die eindstryd van die Tuks Skolereeks te haal het ‘n knou gekry, terwyl Menlopark steeds op koers is om hul afdeling te wen.
Hoërskool Menlopark is goed op pad na die eindstryd van die gesogte Tuks Skolereeks, terwyl Hoërskool Garsfontein sake die afgelope naweek vir hulself bemoeilik het met hul nederlaag teen Transvalia.
Nadat Transvalia van Vanderbijlpark reeds ’n maand gelede by die Blou Bulle se Prestige Rugbydag met hul verrassende oorwinning van 30-25 oor Waterkloof gewys het dat hulle vanjaar oor ’n baie goeie span beskik, was Garsfontein die afgelope naweek hul jongste slagoffer. Transvalia het op hul tuisveld in die Vaaldriehoek met 48-31 teen Garsfontein geseëvier.
Hoewel dit die Bere van Garsies se tweede taai wedstryd in vier dae was (hulle het verlede Woensdag teen Kemptonpark gespeel en met 18-8 gewen), was hulle op vol sterkte teen Transvalia. Teen Kempton Park moes Garsfontein sonder sy twee ster-spelers, senter Diego Appollis en skrumskakel Jurich Claassens, speel. Dié twee het ’n hoë-prestasie-kamp van SA Rugby bygewoon, maar hulle was op hul pos teen Transvalia.
Dit was die eerste keer in 25 jaar dat Transvalia met Garsfontein kon afreken. Dié oorwinning beteken dat afdeling 2 van die Tuks Skolereeks nog nie ’n duidelike gunsteling het nie. Slegs die span wat bo aan elke afdeling eindig kwalifiseer vir die eindstryd, aangesien daar nie vanjaar halfeindstryde in die toernooi is nie.
Die stryd in die laaste rondte (21 April) tussen Garsfontein en Monument sal waarskynlik bepalend wees. Monument en Transvalia het in die eerste ronde gelykop gespeel en is dus in ’n stryd gewikkel om bo te eindig. Garsfontein sal weer hoop dat Pietersburg of Kempton Park ’n haas uit die hoed kan pluk om Transvalia te stuit in hul oorblywende wedstryde.
* Intussen is Menlopark steeds onoorwonne in afdeling 1, nadat hulle die sukkelende Eldoraigne die afgelope naweek met 74-5 kafgedraf het.
Eldoraigne sukkel om vanjaar op dreef te kom, maar Menlopark gaan van krag tot krag in die Tuks Skolereeks.
Menlopark het egter op 21 April nog een groot hekkie om oor te kom voor hul drome van ’n plek in die eindstryd waar kan word. Hulle speel daardie dag tuis teen Dr. EG Jansen van Boksburg en ’n oorwinning sal hulle van ’n plek in die eindstryd verseker.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:



