Local sportSchool sportSport

Atletieklegende ontmoet jong ster wat haar rekord na dekades verbeter

Die legendariese Myrtle Grobler het verlede week die geleentheid gehad om die jong atletiekster, Zeney van der Walt, persoonlik geluk te wens nadat Van der Walt ‘n 35-jaar oue rekord van haar verbeter het.

Met ‘n oorvloed van briljante jong talent wat tans op die atletiekbane van Suid-Afrika na vore tree, lyk die land se atletiektoekoms rooskleurig.

Een van die jong sterre wat kenners van die sport waarskynlik die meeste rede tot opgewondenheid gee, is die 17-jarige Zeney van der Walt, ‘n matriekleerling aan Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP).

Hoewel sy al ‘n paar jaar lank die medaljes inryg op die atletiekbaan, het dié langbeen blits verlede jaar wêreldwyd bekend geword toe sy die 400 meter hekkies op sensasionele wyse gewen het by die Internasionale Atletiek Federasie (IAAF) se onder 18 wêreldkampioenskap in Kenia. Sy het die gunsteling in dié item, Sanique Walker van Jamaika, met ‘n fotobeslissing geklop ná ‘n asemrowende eindpoging waarmee sy ‘n agterstand van etlike meters in die laaste 80 meter van die wedloop uitgewis het.

Vanjaar het Van der Walt vroeg in die atletiekseisoen reeds gewys dat sy gereed is om selfs groter hoogtes te bereik. Na ‘n skitterende seisoen in die kleure van haar skool, het sy ‘n paar weke gelede aandag getrek met goeie vertonings teen senior atlete in die Athletix Grand Prix reeks. Dit was egter haar vertoning by twee weke gelede se SA Senior kampioenskap in Pretoria wat weer die kenners se verbeelding op hol gesit het.

Van der Walt het by dié byeenkoms die verdedigende SA kampioen en Olimpiese ster, Wenda Nel, goed skrikgemaak in die 400 meter hekkies deur letterlik sentimeters (en slegs 0,04 sekondes) ná haar oor die wenstreep te skiet. In die proses het sy egter een van Suid-Afrika se oudste atletiekrekords verpletter. Die legendariese Myrtle Grobler (Bothma) se Suid-Afrikaanse onder 20 rekord van 55,74 sekondes in die 400 meter hekkies is 35 jaar gelede in 1983 opgestel. Sedert verlede naweek staan die nuwe rekord nou op 55,05 sekondes agter Van der Walt se naam.

Om die geskiedkundige gebeurtenis te vier het AHMP verlede week gereël dat  Grobler en Van der Walt mekaar by dié skool ontmoet. Grobler het geen geheim daarvan gemaak dat sy baie opgewonde is oor Van der Walt se toekoms as atleet nie.

“Dit was seker hoogtyd dat die rekord moes verbeter word en ek gun dit vir Zeney, want ek weet hoe hard sy werk en hoe toegewyd sy is,” het sy gesê.

Grobler, wat ook ‘n goeie vriendin is van Van der Walt se onderskatte afrigter, Maritza Coetzee, het gesê sy is vol vertroue dat hierdie prestasie net die begin is van groot hoogtes vir Van der Walt.

“Al raad wat ek kan gee is dat hulle Zeney moet oppas en haar kans moet gee om ervaring op te doen en stelselmatig volwassenheid te bereik as atleet. As dit gebeur – en ek glo dit sal – is daar geen rede waarom sy nie in die toekoms ‘n wêreldster en ‘n Olimpiese medaljewenner kan word nie,” was Grobler se waarneming.

Coetzee glo ook in haar atleet se vermoë om op die internasionale verhoog te presteer.

“Ek het reeds ‘n paar jaar gelde besef Zeney is spesiaal toe sy as onder 15 atleet skitterende tye in hekkies items én ander wedlope begin hardloop het. Haar kop is boonop baie sterk en sy het emmers vol BMT. Daarby het sy reeds ‘n goeie ondersteuningsnetwerk wat na al die aspekte van haar behoeftes as atleet en as mens omsien,” het Coetzee verduidelik.

Van der Walt is nog effens oorbluf met al die media aandag wat sy skielik kry, maar as sy oor haar drome as atleet uitgevra word is dit gou duidelik dat sy hoog mik. Haar planne is reeds agtermekaar vir die volgende paar jaar. Hoewel sy vanjaar tussen al die atletiek deur nog op haar matriek-studies moet fokus, berei sy reeds voor vir die onder 20 wêreldkampioenskap in Finland en die junior Afrika kampioenskap hier in Suid-Afrika, wat albei later vanjaar volg.

Op die medium termyn maak Van der Walt ook geen geheim daarvan dat sy nou reeds droom van deelname aan die volgende Olimpiese Spele in 2020 in Japan nie. Met haar prestasies van die afgelope seisoen in ag genome is haar kanse natuurlik goed om wel haar land reeds op 20-jarige ouderdom in Tokyo te verteenwoordig.

As Myrtle Grobler se raad in gedagte gehou word is dit selfs nog meer opwindend om te besef dat dié nederige skooldogter van Pretoria met ‘n bietjie geluk in die volgende dekade of wat selfs vier Olimpiese Speles en hopelik baie rekords en baie medaljes op haar kerfstok kan plaas.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button