Local sportSchool sportSport

Oos-Moot atletiekster as SA kampioen gekroon

Drie atlete van die Hoërskool Oos-Moot het medaljes gewen by verlede week se SA Hoërskole Atletiekkampioenskap in Potchefstroom.

Die prestasie van atlete van die Hoërskool Oos-Moot by verlede week se SA Skole kampioenskap in Potchefstroom het die kroon gespan op ‘n seisoen van puik vertonings vir dié skool.

Sewe atlete van Oos-Moot het aan die kampioenskap deelgeneem. Die skool het ‘n Suid-Afrikaanse kampioen opgelewer, terwyl nog twee Oosies medaljes verower het tussen die room van Suid-Afrika se skole-atlete.

Oos-Moot se groot trots was die prestasie van Ruan de Lange, wat as kampioen in die 110 meter hekkies vir seuns onder 17 aangewys is. De Lange het met Suid-Afrika se beste atlete in sy ouderdomsgroep afgereken om die goue medalje in dié item in te palm. Sy wentyd was 13,83 sekondes.

Jaco Kok van Oos-Moot het die silwer medalje verower in die spiesgooi vir seuns onder 17. Kok het die spies 63,54 meter ver gegooi vir dié prestasie.

Die skool se ander medaljewenner was Danae Jansen van Rensburg wat ‘n bronsmedalje verower het in die spiesgooi vir meisies onder 17. Haar poging van 46,03 meter was genoeg om aan haar dié derde plek te besorg.

Oos-Moot het boonop die prestasie behaal dat Chané van Zyl óók gekwalifiseer het om aan die spiesgooi vir meisies onder 17 deel te neem. Sy het kort op Jansen van Rensburg se hakke in die vierde plek geëindig met haar gooi van 45,26 meter. Van Zyl se prestasie word in perspektief geplaas deur die feit dat sy steeds ‘n onder 16 atleet is. Die byeenkoms het egter net voorsiening gemaak vir deelname in drie ouderdomsgroepe, naamlik onder 15, onder 17 en onder 19.

Evert Alderson (vyfde in die diskus vir seuns onder 17), LJ Viljoen (sewende in die paalsrpring vir seuns onder 17) en Francois Jacobs (negende in die paalsrpring vir seuns onder 17) was die ander atlete van Oos-Moot wat Gauteng op die kampioenskap verteenwoordig het.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button