Centurion klop Quins-Bobbies
In die enigste wedstryd wat die afgelope naweek in die Super Klubliga en die Carltonbeker toernooi plaasgevind het, het Centurion verras deur maklik met Quins-Bobbies af te reken.
Centurion Rugbyklub se eerstespan, wat tot dusver vanjaar wisselvallig vertoon het, het die afgelope naweek baie goed teruggebons ná hul nederlaag teen East Rand United, toe hulle Quins-Bobbies (QBR) redelik maklik in ‘n Superliga en Carltonbeker wedstryd geklop het.
In die enigste wedstryd waarin plaaslike klubspanne die naweek betrokke was het Centurion ses drieë gedruk om op hul tuisveld met 45-22 te wen. Riaan Brand se manne het vroeg reeds toegeslaan en hulle was teen rustyd al 24-10 voor.
Quins-Bobbies het self ‘n bonuspunt verdien met hul vier drieë. Centurion se oorheersing voorlangs, asook die druk wat hul op QBR met aggressiewe verdediging gesit het, het hulle egter in staat gestel om in die eerste helfte reeds beheer te neem van die wedstryd.
Jacques Olivier en sy troepe het geteer op foute van QBR, terwyl hulle daarin geslaag het om blitsvinnig met teenaanvalle punte aan te teken wanneer hulle omgekeerde besit bewerkstellig het. Ná vier drieë in die eerste halfuur van die wedstryd was die tuisspan reeds 24-5 voor op die telbord en QBR moes daarna kanse begin vat om dié agterstand te probeer inhaal.
De-an Ackerman en Christiaan Burger van Centurion kan beslis ook in ‘n baie gedugter senterpaar ontwikkel as hulle beseringsvry bly. Hulle het hul teenstanders laat bontstaan op die aanval en elk twee keer gaan druk, terwyl hulle ook gereeld ruimte kon skep vir hul twee haastige vleuels, Denver Grootboom en Curtley Brinkhuis. Laasgenoemde het self twee keer die doellyn gehaal.
Dié twee spanne het nou elk drie keer gewen en drie keer verloor en op hierdie stadium lyk dit of hulle in ‘n verbete stryd betrokke kan wees om onder die top vier spanne in die Superliga te eindig ten einde ‘n plek in die halfeindrondte wedstryde te kry.
Ten spyte van hierdie nederlaag, wat effens verrassend was, bly QBR ‘n geaarlike span wat op enige gegewe Saterdag met enige ander span in die liga kan afreken.
Dié span van Groenkloof het eerskomende naweek ‘n loslootjie, terwyl Centurion voor ‘n groot uitdaging te staan kom as hulle die eerste rondte van die kompetisie afsluit met ‘n wedstryd teen Tuks, die voorlopers in die Superliga sowel as die Carltonbeker. As Olivier en sy manne egter kan voortbou op die vertoning teen QBR kan hulle dalk teen Tukkies verras.
ABE Midas Naka Bulle reis eerskomende Saterdag na Rustenburg vir hul belangrike wedstryd teen Impala.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:


