Local sportSport

Nederlaag teen Ben Vorster is dubbele slag vir Oos-Moot

Hoërskool Oos-Moot het Saterdag op hartverskeurende wyse in die laaste sekondes van hul wedstryd teen Ben Voster van Tzaneen verloor ná 70 minute van opwindende rugby wat 14 drieë opgelewer het.

Puik skopwerk na die pale deur Hoërskool Ben Vorster se binnesenter, DJ du Preez, was die groot faktor wat Hoërskool Oos-Moot se harte Saterdagmiddag op hul tuisveld gebreek het.

Die Vossies van Tzaneen het dié uiters belangrike rugbywedstryd met 52-50 gewen en daarmee ’n dubbele slag teen Oos-Moot geslaan. Die pyn van die naelskaapse nederlaag word vererger deur die feit dat dié wedstryd nie net as ligabepaling vir die PUK Interprovinsiale reeks gedien nie, maar dit was terselfdertyd die twee spanne se eerste bepaling in die VirSeker Beker (Afdeling 1, Skild).

Oos-Moot het vol selfvertroue op die veld gedraf ná hul onlangse glorie by die Mauritz Hansen Week, waar hulle Witteberg van Betlehem in die eindstryd geklop het om as kampioen in dié prestigeryke toernooi gekroon te word.

Ná ’n glips op die verdediging in die eerste paar minute van die wedstryd, wat Ben Vorster in staat gestel het om die eerste drie van die kragmeting te druk, het Oos-Moot mooi herstel en voor rustyd vier keer gaan druk om met 24-17 voor te loop.

In die tweede helfte het die telbord wipplank gery. Albei spanne het positiewe aanvallende rugby gespeel, maar die verdediging was soms aan albei kante nie op standaard nie.

Die tuisspan se kaptein, Eduan Swart, wat eers haker en later agtsteman gespeel het, was verwoestend in die tweede helfte en hy het drie keer gaan druk met sy kragspel. As dié seun topfiks word en leer om vir 70 minute te fokus, is daar geen skole-haker in Pretoria wat hom uit die Blou Bulle se Cravenweekspan kan hou nie.

Hoewel Oos-Moot agt drieë teen die besoekers se ses gedruk het, was Du Preez sy span se held en sy skopvoet was die groot verskil tussen wen en verloor. Hy het vyf drieë verdoel en boonop met vier strafdoele geslaag. Sy laaste strafdoel het die uitslag bepaal toe sy die bal deur die pale gestuur het sekondes ná die toeter geblaas het om aan te dui dat speeltyd verstreke was.

Oos-Moot se skopper het drie doelskoppe verbrou. Hy kan egter nie vir die nederlaag verantwoordelik gehou word nie. Die Oosies was nét te wisselvallig en het die seuns van Tzaneen toegelaat om ’n paar onnodige drieë te druk wanneer hulle fokus op die verdediging verloor het.

Met hierdie nederlaag het ’n feesdag van Oos-Moot op ’n negatiewe noot geëindig. Die sportdag tussen die twee skole het ook gedien as ’n amptelike openingsgeleentheid van Oos-Moot se verbeterde sportfasiliteite. Hul klubhuis is onder andere vergroot, terwyl ander verbeterings ook rondom die rugbyveld aangebring is.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button