Binnenshuise kriekettoernooi lok SA se beste juniors na Pretoria
Byna 400 jong spelers het onlangs na die Off The Net Arena in Daspoort, Pretoria opgeruk vir Indoor Cricket South Africa se Junior Nasionale kampioenskap.

As daar by enigiemand nog twyfel was dat Binnenshuise Krieket in Suid-Afrika ’n snelgroeiende sportsoort is, sou die opkoms by die onlangse Junior Nasionale kampioenskap van Indoor Cricket South Africa (ICSA) hulle anders laat dink het.
Die Off The Net Arena in Daspoort in die weste van Pretoria was ’n miernes van bedrywighede toe byna 400 spelers en selfs meer ondersteuners van reg oor Suid-Afrika opgedaag het vir dié toernooi.
Die toernooi het ’n week lank geduur en 40 provinsiale federasies het spanne in vyf verskillende ouderdomsgroepe (o.10; o.12; o.14; o.16 en o.18) ingeskryf. In geheel het 387 spelers saam met hul spanbestuurders, afrigters en ondersteuners na die Off The Net Arena in die industriële gebied op die hoek van Es’kia Mphahlele-weg en Mootstraat opgeruk.
Volgens Elrich van de Venter, woordvoerder van Indoor Cricket South Africa en toernooibestuurder van die kampioenskap, was die aanbieding van die toernooi op ’n baie hoë standaard en hy het Indoor Cricket Gauteng North gelukgewens met die puik organisering van dié groot projek.
Behalwe vir die vyf kampioenskaptitels wat op die spel was, is plaatkompetisies ook ingestel vir die o.12- en o.14-ouderdomsgroepe. Dit beteken dat sewe trofeë beskikbaar was om gewen te word.
Die 217 wedstryde wat gedurende die week van die kampioenskap afgehandel is het nie net die nasionale kampioene in elke ouderdomsgroep bepaal nie, maar dit het ook gedien as proewe vir die onderskeie nasionale spanne wat na afloop van die aksie gekies is.
Gauteng-Noord se spanne het die toernooi oorheers en vier van die sewe titels wat op die spel was is deur plaaslike spanne ingepalm.
Daar is ook toekennings gemaak aan spanne wat die beste sportmangees tydens die toernooi getoon het.
Met die puik prestasies van Gauteng-Noord se spanne was dit ook te wagte dat verskeie spelers individuele toekennings sou ontvang na afloop van die toernooi.
Uiteindelik was daar in elke ouderdomsgroep ’n plaaslike presteerder wat aangewys is as wenner in een van die kategorieë as beste bouler, beste kolwer of mees waardevolle speler.
Drie meisies en 17 seuns (versprei oor al vyf ouderdomsgroepe) van Pretoria is gekies om die nasionale spanne te verteenwoordig wat later vanjaar verskeie wedstryde sal speel op hul binnelandse toer.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:





