Bonuspunt oorwinning vir Bulls teen Rebels in frustrerende wedstryd op Loftus
Hoewel die Bulls maklik met die Rebels afgereken het op Loftus Versfeld, sal Burger Odendaal en sy manne drasties op hul vertoning moet verbeter as hulle volgende week die Highlanders wil klop.
Die Bulls het hul derde bonuspunt oorwinning na mekaar behaal in die SuperRugby toernooi, toe hulle die Rebels van Melbourne Saterdagmiddag op Loftus Versfeld met 28-10 geklop het.
Selfs die getrouse ondersteuners sal egter saamstem dat die manne in Blou dramaties sal moet verbeter op hierdie poging as hulle volgende week met die Highlanders van Nieu-Seeland wil afreken. Die tuisspan was strate beter as hul Australiese teenstanders, maar hulle het baie punte weggesmyt met slorigse spel.
Hoewel die uitslag nooit ‘n kwessie was nie, het die Bulls waarskynlik heeltemal te veel gesukkel om die bonuspunt oorwinning te verseker om tevrede te wees met die vertoning. Daar moet egter ook genoem word dat ‘n twyfelagtige vertoning deur die skeidsregter, Ben O’Keeffe, asook negatiewe spel deur die Rebels, bygedra het tot die frustrerende verloop van die wedstryd.
Die Bulls speel puik rugby sedert hul terugkeer van hul toer in Australasië en ná goeie oorwinnings oor die Stormers en die Sharks het hul ondersteuners verwag om positiewe rugby te sien.
Burger Odendaal en sy manne het ook nie gras onder hulle voete laat groei nie en van die afskop af moes die Rebels bontstaan op die verdediging. Die tuisspan het net vyf minute nodig gehad om die eerste keer oor die doellyn te kom toe Adriaan Strauss ‘n beweging afgerond het.
Hoewel die Aussies daarna hul bes probeer het om hul eie aanvalstrukture in orde te kry, was die Bulls se verdediging rotsvas en hulle kon nooit werklik oor die voordeellyn kom nie.
Daartenteen het die tuisspan verskeie geleenthede vir hulself geskep met positiewe spel op die aanval, maar die afronding het telkens ontbreek weens hanteerfoute of verkeerde opsies.
Halfpad deur die eerste helfte het Odendaal sy opsies naby die doellyn afgewissel en ‘n puik steekskoppie deurgestuur, wat Jesse Kriel in staat gestel het om die Bulls se tweede drie te druk nadat hy dit opgevolg het.
Die manne in Blou het die res van die eerste helfte oorheers, maar kon eers ná die halftyd toeter hul derde drie druk, toe Divan Rossouw ná eerstefase besit in die hoek oor is. Dit het beteken dat die manne kon gaan rus met die Bulls wat 21-3 voorgeloop het.
Na rustyd het die besoekers met nuwe energie en geesdrif begin speel. Hulle het meer van die bal te sien gekry en die eerste tien minute in alle opsigte oorheers. Dít het gelei tot ‘n drie vir Michael Ruru, hul knaende skrumskakel.
Hoewel die Bulls tot ‘n groot mate daarna weer beheer oorgeneem het, kon hulle weens aanhoudende slordige spel eenvoudig net nie drieë druk nie. Die tyd het begin uitloop en die tuisspan moes ‘n vierde drie druk om ‘n bonuspunt te verseker ná Ruru se drie. Ná verskeie mislukte aanvalle was dit uiteindelik die plaasvervanger skrumskakel, André Warner, wat kon oorduik nadat hy ‘n vinnige tikskoppie vanaf ‘n strafskop geneem het.
PUNTEMAKERS:
BULLS: 28 Drieë: Adriaan Strauss, Jesse Kriel, Divan Rossouw, André Warner. Doelskoppe: Handré Pollard (4).
REBELS: 10 Drieë: Michael Ruru. Doelskoppe: Jack Debreczeni (1). Strafdoele: Jack Debreczeni (1)
Skeidsregter: Ben O’Keeffe
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:




