Local sportSchool sportSport

Menlopark dring deur na Tuks-reeks eindstryd

Menlopark speel op 5 Mei in hul eerste Tuks-reeks eindstryd, nadat hulle die ligafase onoorwonne afgesluit het.

Die Hoërskool Menlopark se eerstespan het Saterdag deurgedring na die eindstryd van die gesogte TuksSkole reeks toe hulle Dr. EG Jansen van Boksburg met 27-22 geklop het.

Met hierdie oorwinning het Menlopark die ligafase van die toernooi onoorwonne afgesluit en hulle sal op 5 Mei in die eindstryd teen Monument van Krugersdorp speel.

Dié toernooi se struktuur is vanjaar verander en daar sal nie halfeindstryde wees nie. Die wenners van die twee groepe kom teen mekaar in die eindstryd te staan.

Dit sal Menlopark se eerste eindstryd in dié gesogte toernooi wees, terwyl Monnas die verdedigende kampioen is.

Die Parkies het hul wedstryde in groep 1 onoorwonne afgesluit om na die eindstryd deur te dring. Hoewel Monument se eerste wedstryd van die toernooi teen Transvalia gelykop geëindig het, kon hulle Saterdag met ‘n bonuspunt oorwinning teen Garsfontein daarin slaag om eerste te eindig in groep 2.

Saterdag se oorwinning teen EG Jansen sal baie doen vir die Parkies se selfvertroue, aangesien hulle baie karekter gewys het om vas te byt en in die doodsnikke van die wedstryd die oorwinning te beklink. EG Jansen het regdeur voorgeloop, maar Menlopark kon daarin slaag om die wendrie kort voor die eindfluitjie te druk.

Menlopark en Monument sal eerskomende naweek albei in die prestigeryke Wildeklawer toernooi in Kimberley in aksie wees, voordat hulle mekaar ‘n week later in die Tuks Rugbystadion in die eindstryd van die Tuks-reeks pak.

* Garsfontein se groot nederlaag teen Monnas was hul tweede van die Tuks-reeks, wat beteken dat hulle nie onder die top vier spanne in dié toernooi kon eindig nie. Monument het hulle met 68-31 geklop om net-net voor Transvalia te eindig.

Garsfontein sal ook nie vanjaar in aksie wees by die Wildeklawer toernooi nie. Garsies se Bere sal na Port-Elizabeth reis om deel te neem aan Grey High School se Rugbyfees.

* Pretoria se ander verteenwoordiger in die Tuks-reeks, Eldoraigne, het Saterdag hul vierde agtereenvolgende nederlaag in die Tuksreeks gely toe Nelspruit hull met 22-19 geklop het.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button