Local sportSport

Tuks klop Centurion, wen Lucas Strachan skild

Tuks het die afgelope naweek nie net hul onoorwonne rekord behou in die Superliga en Carltonbekertoernooi nie, maar ook seker gemaak dat hulle vanjaar se houers van die Lucas Strachan skild word.

Tukkies het die afgelope naweek die eerste ronde van die Carltonbekertoernooi as die voorloper in op die punteleer afgesluit ná hul oorwinning van 62-44 teen Centurion en sodoende het Nico Luus se span ook seker gemaak dat hulle vanjaar die houers van die Lucas Strachan skild word.

Hoewel daar aanvanklik sprake was dat dié trofee vanjaar in een van die ander nuwe ligas as wentrofee beskikbaar sou wees, is daar uiteindelik tog besluit om dit weer toe te ken aan die Carltonbekerspan wat halfpad deur die kompetisie voor is op die punteleer.

* Tuks het nege drieë ingeryg om Centurion op laasgenoemde se tuisveld in die skadu van die Gautrein-spoor te klop. Die studente was teen rustyd reeds met 28-20 voor.

Centurion het sake egter nie maklik gemaak vir Tukkies nie en hulle het self kookwater rugby gespeel. Daarvan getuig die vyf drieë wat Riaan Brand se manne teen Tuks gedruk het. Vier van dié vyf drieë is deur Centurion se agterste driehoek (heelagter en vleuels) gedruk, wat bewys dat hulle deesdae opwindende rugby speel en goed gebruikmaak van die vaardighede en spoed wat hulle agterlangs tot hul beskikking het.

Die trotse span van Tukkies en hul bestuur spog met die Lucas Strachan Skild kort nadat hulle Centurion Saterdag geklop het om die eerste ronde van die Superliga en Carltonbekertoernooie onoorwonne af te sluit.
Foto: Tania Rogowski Pelser

Uiteindelik was Tukkies, wat nie eintlik enige swakplekke in hul mondering het nie, se totale aanslag egter een te veel vir die tuisspan. Pieter Griesel en sy spanmaats het met hierdie vertoning weer gewys dat die span wat die Carltonbeker òf die Superliga wil wen eers by hulle sal moet verbykom.

* In Rustenburg het die langverwagte stryd tussen twee sterk halfeindronde-aanspraakmakers in die in die Superliga ’n drieë-fees opgelewer toe Impala vir ABE Midas Naka Bulle met 58-43 geklop het.

Hoewel daar sekerlik vrae gevra kan word oor albei spanne se verdediging ná die 13 drieë wat tydens die wedstryd gedruk is, sou die toeskouers beslis nie kon kla nie. Hulle het 80 minute wan baie aksie en opwinding beleef waarin die wenspan sewe keer gaan druk het, terwyl ABE Naka Bulle self ses keer agter die doellyn gaan kuier het.

Impala het vroeg toegeslaan met twee vinnige drieë, wat die besoekers vir die res van die wedstryd onder druk gehou het. Die manne van Noordwes het boonop reggekry wat geen ander span vanjaar nog teen Sylvester Booysen en sy makkers kon regkry nie – hulle het voorlangs oorheers. Dít het sake selfs moeiliker gemaak vir die manne van die Moot, want hulle moes hard werk om kwaliteit balbesit te kry waarmee hul gevaarlike agterlyn kon aanval.

As troosprys kan ABE Naka Bulle darem daarmee spog dat hul tweede span (17-15) en derdes (37-12) die Rustenburgers kon ore aansit.

As gevolg van die langnaweek sal geen klubrugby eerskomende naweek gespeel word nie.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button