Bulls kry groot verwelkoming by Tuine se Grizzlies Rugbyklub
Rugbyliefhebbers uit die Weste van Pretoria het verlede week in groot getalle opgeruk na Tuine Sportklub om spelers en afrigters van die Bulls te ontmoet.

Die Blou Bulle Rugby-unie se inisiatief om interaksie te bewerk tussen professionele spelers en administrateurs van die unie en die rugbypubliek van Pretoria via amateurklubs lyk na ‘n wenresep.
Rugbyliefhebbers en ondersteuners van die Bulls het verlede week in hul massas opgeruk na Tuine Sportklub, tuiste van die Grizzlies Rugbyklub, om skouers te skuur met die Bulls se afrigter, John Mitchell, en ‘n groot groep spelers.
Die aanvanklike plan was om die Bulls op Tuine se veld te laat oefen, maar die strategie is gewysig om veral jong ondersteuners van dié span die geleentheid te gee om hul helde van nader te leer ken. Skoolseuns is in ‘n informele afrigtingsessie deur spelers van die Bulls en afrigters soos John Mitcell en Pote Human onder hande geneem op die Grizzlies van Tuine se A-veld.
Op hierdie manier kon die interaksie tussen jong rugbyspelers en hul Bulls-helde regdeur die spelers se besoek aan die klub plaasvind.
Na die oefensessie was daar ‘n kans vir die jong spelers en hul familie om sosiaal met die spelers en afrigters te verkeer deur fotosessies, terwyl handtekeningjagters ook hul helde se handtekeninge op enige denkbare manier kon kry. Rugbyballe, plakboeke en rugbytruie is nadergetrek om geteken te word, terwyl sommige ondersteuners selfs ‘n paar handtekeninge op hul arms en bolywe ontvang het.
Tuine Sportklub se eie TV-span, G-TV, het ook van die geleentheid gebruik gemaak om onderhoude met John Mitchell en ‘n paar spelers te voer.
Terwyl die ondersteuners in hul skik was om hul helde op hul eie klub se terrein te verwelkom, was dit veral die reaksie van die spelers wat die waarde van die projek onderstreep het. Baie van die professionele spelers het openlik erken dat hulle aangenaam verras was met die belangstelling van die publiek, asook met die puik fasiliteite by dié klub in die Weste van Pretoria.
Die spelers is na die klub se vermaaklikheidsverhoog langs die A-veld genooi om daar saam met die publiek te kuier en sommige van die spelers was ook verbaas toe hulle die fasiliteite van G-TV se ateljee sien, waar hulle ingenooi is vir ‘n groepfoto.
Die algemene gevoel onder spelers, administrateurs én lede van die publiek was dat dié geleentheid ‘n reuse sukses was en dat dit goud werd was om die band tussen spelers en ondersteuners te bou, terwyl dit veral persepsies aan weerskante aangespreek het.
Mitchell en ‘n groep spelers se volgende besoek aan ‘n klub is op Donderdag 3 Mei, wanneer hulle Noordelikes Rugbyklub in Pretoria-Noord besoek. Die verrigtinge sal ook om 16:00 begin en almal is welkom om daarin te deel.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:












