Menlopark verspeel hul kans op eerste Tuks-reeks titel
Menlopark het Saterdag in die laaste kwartier van die Tuks-reeks eindstryd hul greep op die wedstryd verloor en Monument toegelaat om ‘n agterstand van 15 punte uit te wis om wéér as kampioen gekroon te word.
Hoërskool Menlopark se eerste rugbyspan het Saterdag in die Tuks Rugbystadion ‘n gulde kans verspeel om hul eerste titel in die gesogte Tuks-reeks te wen, toe hulle ‘n voorsprong van 15 punte in die laaste vyftien minute van dié toernooi se eindstryd teen Monument verbeur het.
Monnas het 17 onbeantwoorde punte in daardie spannende laaste kwartier aangeteken om met 36-34 te wen en vir die derde jaar agtereenvolgens as kampioen in dié reeks gekroon te word.
Hoewel Monument waarskynlik van die begin af in die meeste liefhebbers van skolerugby se boeke die gunsteling was om hul driekuns te behaal, het Menlopark eerder die wedstryd verloor as wat die seuns van die Wes-Rand dit gewen het.
Met ‘n pak voorspelers wat vir die grootste deel van die wedstryd sake voorlangs oorheers het en ‘n briljante Bernard van der Linde op skrumskakel, het die Pretorianers vir sowat 50 minute lank die wedstryd beheer. Maar toe Menlo se binnesenter na twintig minute in die tweede helfte met ‘n geelkaart afgestuur word ná ‘n oortreding by ‘n losskrum in die rooi gebied naby die teenstanders se doellyn, het die gety vinnig vir hulle gedraai.
Menlopark het puik begin en vir die grootste deel van die wedstryd die perfekte wedstrydplan uitgevoer. Terwyl hul voorspelers die pap dik aangemaak het en die sogenaamde “Wit Bulle” van Krugersdorp verras het deur sake te oorheers, het Van der Linde sake soos ‘n generaal vanaf die skrumskakel posisie beheer.
Daarmee saam het Menlopark soos tiere verdedig en veral aan hul teenstanders se gevaarlike agterlyn bittermin beweegruimte gegun.
Dié strategie van die Parkies het Monnas gefrustreer en laasgenoemde se swak dissipline as gevolg daarvan het aan Van der Linde die geleentheid gebied om die telbord aan die rol te hou met sy giftige skopvoet. Hy het 17 punte voor rustyd met vyf strafdoele en een doelskop aangeteken, terwyl Divan Venter ‘n drie kon druk na puik dryfspel van die voorspelers.
Daarenteen het Monnas twee keer gaan druk, waarvan een drie teen die verloop van spel was. Menlopark was inderdaad op pad doellyn toe vir hul tweede drie toe Monnas se regtervleuel, Kagiso Nyamande, die bal in ‘n desperate poging op die verdediging in sy eie kwartgebied onderskep het om deur te nael vir ‘n drie onder die pale.
Teen rustyd was die span van Pretoria egter met 22-14 voor en ‘n verrassende oorwinnig was ‘n besliste moontlikheid.
Menlopark het hul houvas op die verloop van die wedstryd versterk met ‘n drie binne die eerste drie minute na rustyd.
Hoewel Monnas sowat tien minute later teruggeslaan het met ‘n drie deur hul gevaarliks buitesenter, Henco van Wyk, was dit Van der Linde wat die skaal onmiddelik daarna van die volgende afskop af weer in Parkies se guns laat swaai het met ‘n briljante individuele drie onder die pale.
Toe kom die ramp vir Menlopark met ‘n geelkaart. Die Parkies het skielik paniekerig geraak en vanaf die daaropvolgende lynstaan ‘n reuse blaps op die verdediging begaan wat aan Izan Esterhuizen, agtsteman van Monnas, die geleentheid gegee het om ‘n verspotmaklike drie te druk.
Monument het voortgegaan om die ekstra man situasie goed te gebruik met aanhoudende aanvallende spel en ná ‘n senutergende paar minute het hul kaptein, Morné Brandon, deurgebreek vir nog ‘n drie.
Met een punt verskil en Menlopark se droom wat steeds lewendig was, maar aan ‘n draadjie gehang het, het die spanning breekpunt bereik in die laaste drie minute. Uiteindelik was dit ‘n strafdoel in die doodsnikke deur losskakel Byron-Lee Wentink wat aan Monnas die oorwinning besorg het.
Hoewel die manne van Krugersdorp meer drieë gedruk het, moes Menlopark weens verskeie redes hierdie wedstryd gewen het.
* In die uitspeelstryd om die vyfde en sesde plekke van die toernooi het Hoërskool Garsfontein maklik met Hoërskool Rustenburg afgereken. Garsies se Bere het met 48-19 gewen.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


