Oos-Moot atleet is Suidelike-Afrika kampioen
‘n Onder-16 atleet van Hoërskool Oos-Moot het met Suidelike-Afrika se beste onder-18 atlete afgereken by die onlangse streek kampioenskap.
Chané van Zyl van die Hoërskool Oos-Moot is net 15 jaar oud, maar sy is reeds besig om haar merk op die internasionale atletiekfront te maak.
Van Zyl het vanjaar as veldatleet reeds besondere prestasies op die atletiekbaan behaal en dit was juis om dié rede dat sy ‘n uitnodiging ontvang het om aan die onlangse Suidelike Streek kampioenskap van die Afrika Atletiek-konfederasie in Boksburg deel te neem.
Tien lande uit Suidelike Afrika se beste junior atlete het aan die Oos-Rand saamgetrek vir hierdie byeenkoms. Dié lande is Suid Afrika, Zimbabwe, Botswana, Lesotho, Mauritius, Seychelles, Zambië, Namibië, Swaziland en Mozambiek.
Die enigste voorwaarde vir Van Zyl se deelname was dat sy teen onder-18 teenstanders moes meeding. Dít het haar egter nie op enige manier geïntimideer nie en hoewel sy aan die spiesgooi item moes deelneem, waar die ouderdomsverskil uiteraard ‘n groot invloed kon hê, het Van Zyl die uitdaging aanvaar.
Van Zyl het die kompliment van die organiseerders wat haar na die byeenkoms genooi het beantwoord met ‘n puik vertoning, waartydens sy ‘n nuwe persoonlike beste afstand van 48,66 meter in die spiesgooi aangeteken het. Dié afstand was boonop goed genoeg om aan haar die goue medalje te besorg, wat beteken dat sy as onder-16 atleet met Suidelike-Afrika se beste onder-18’s afgereken het.
Haar goue medalje beteken ook dat sy nou oorweeg kan word om die streek te verteenwoordig by die CAA Youth all Africa Games, wat in Julie in Algerië aangebied sal word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
