Bulls klop Jaguares met terugvegpoging op Loftus Versfeld
Die Bulls het Saterdagmiddag op Loftus Versfeld eers groot geskrik teen die Jaguares, maar later momentum begin opbou en terugeveg om ‘n groot agterstand uit te wis en hul laaste tuiswedstryd in vanjaar se SuperRugby toernooi te wen.
Die Jaguares van Argentinië se SuperRugby veldtog is Saterdag op Loftus Versfeld geknou, toe die Bulls met ‘n dapper terugvegpoging daarin geslaag het om hulle met 43-34 te klop.
Na ‘n moeilike week vir die Bulls en hul afrigter was Handré Pollard en sy manne onder groot druk toe hul laaste tuiswedstryd in vanjaar se SuperRugby seisoen afskop.
Die besoekers het dadelik na die afskop begin aanval en die Bulls het vroeg-vroeg effens verlore gelyk, veral toe die Argentyne se ster losskakel, Nicolas Sanchez, na drie minute hul eerste drie gaan druk.
Twee minute later het hul kaptein, Pablo Matera, weer so gemaak en die kleinerige skare op Loftus Versfeld wat opgedaag het om die Bulls se 80ste verjaardag te vier, het begin wonder waarom hulle die koue getrotseer het vir dié wedstryd.
Toe skrumskakel Gonzalo Bertranou na 18 minute oordraf vir die Jaguares se derde drie, het dit met die telling op 19-0 in die guns van die Argentyne beslis nie gelyk of daar ‘n feesdag op Loftus heers nie.
Pollard het egter sy manne bymekaar gekry en hulle het begin terugveg. Die verdediging was stelselmatig beter en die Bulle het ook aggressief by die afbreekpunte begin kompeteer, wat die besoekers effens laat terugdeins het.
Die tweede kwart van die wedstryd het beslis aan die tuisspan behoort. Drieë deur Johnny Kotze en Embrose Papier het die tuisskare se hoop laat opvlam. Toe Jesse Kriel boonop ná die halftyd toeter ‘n Jaguares-aangee onderskep en 40 meter ver nael om te druk, het die hele prentjie verander en skielik was die Bulls terug in die wedstryd. Hulle het immers teen rustyd met 21-19 voorgeloop.
Na rustyd het ‘n wipplank stryd gevolg vir die eerste tien minute, met albei spanne wat ‘n kans gehad het om die voortou te neem.
Goeie drieë deur Jamba Ulengo en Marco van Staden het die skaal egter in die Bulls se guns geswaai, terwyl die Bulls veral in die skrums begin oorheers het.
Die manne uit Suid-Amerika het binne trefafstand gebly met ‘n strafdoel halfpad deur die tweede helfte, maar ‘n tweede drie deur Ulengo, ná puik spel deur Johnny Kotze, het aan die tuisspan ‘n voorsprong van 14 punte gegee.
Hierna het die besoekers alles probeer om ten minste ‘n verloor-bonuspunt te behaal. Pablo Matera het in die laaste sekondes weer gaan druk, maar heelagter Emiliano Boffelli het die doelskop gemis en die Jaguares moes Loftus Versfeld verlaat sonder enige ligapunte. Dít is natuurlik goeie nuus vir beide die Lions en die Sharks.
PUNTEMAKERS:
BULLS: 43 Drieë: Johnny Kotze, Embrose Papier, Jesse Kriel, Jamba Ulengo (2), Marco van Staden. Doelskoppe: Handré Pollard (5). Strafdoele: Handré Pollard (1).
JAGUARES: 34 Drieë: Nicolas Sanchez, Pablo Matera (2), Gonzalo Bertranou (2). Doelskoppe: Nicolas Sanchez (3). Strafdoele: Emiliano Boffelli (1).
Skeidsregter: Egon Seconds
https://www.facebook.com/BullsOfficial/videos/1831322673592807/
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.





