Centurion verloor teen Tuks, haal nie halfeindstryd van Super Klubtoernooi
Tukkies se oorwinning oor Centurion beteken dat laasgenoemde nie meer die halfeindronde van die Super Klubrugby toernooi kan haal nie.

Tukkies se rugbyspan het die afgelope Saterdag effektief Centurion se seisoen beëindig met ‘n oorwinning van 39-22 in ‘n Carltonbeker en Super Klubliga wedstryd in die Tuks-rugbystadion.
Centurion se lewe het aan ‘n draadjie gehang in die interprovinsiale Super Klubliga en hulle móés hierdie laaste wedstryd van hul ligabepalings wen om die agterdeur vir hulle oop te hou om moontlik vir die halfeindronde te kwalifiseer.
As Centurion daarin kon slaag om Tuks te wen en boonop ‘n bonuspunt te verdien, sou hulle lot steeds in volgende week se laaste ligabepalings in die hande van Rustenburg Impala gewees het. Die Noordwesters speel eerskomende Saterdag teen Quins-Bobbies en ‘n oorwinning vir die manne van Groenkloof sou Centurion ook uit die halfeindronde kon hou.
Al hierdie permutasies is egter nou irrelevant, nadat Tuks met hul bonuspunt-oorwinning effektief Centurion se aansprake beëindig het.
Soos sake tans staan dui die Blou Bulle se bepalings aan dat die halfeindronde-wedstryde by die klubs gespeel sal word. Dit beteken dus dat Saterdag se wedstryd tussen QBR en Impala vir eersgenoemde van akademiese belang sal wees, aangesien hulle in elk geval vierde sal eindig en in ‘n wegwedstryd teen Tuks in die halfeindronde sal speel.
Vir Impala is ‘n oorwinning egter deurslaggewend, want dit kan aan hulle ‘n tuis-halfeindstryd verseker as ABE Midas Naka Bulle Saterdag teen Tuks vasval.
Hopelik sal die Blou Bulle die bepalings heroorweeg om die halfeindstryde op Loftus Versfeld te laat plaasvind en sodoende aan klubrugbyliefhebbers en ander belanghebbendes die geleentheid te gee om albei wedstryde te sien.
Eerskomende naweek se laaste ligabepalings sal in die geval van die stryd tussen Tukkies en ABE Midas Naka Bulle wel in terme van die Carltonbekertoernooi uiters belangrik wees. Dié wedstryd sal effektief dien as vanjaar se Carltonbeker-eindstryd.
Die Carltonbekertoernooi word tegelyk met die Super Klubreeks gespeel en wedstryde in laasgenoemde toernooi tussen die vier Carltonbekerklubs word gebruik om die plaaslike toernooi se punteleer te bepaal.
Na Saterdag se oorwinning het Tukkies nou 25 ligapunte in die Carltonbekertoernooi, terwyl ABE Midas Naka Bulle op 22 punte staan. Die manne van die Moot se punteverskil (ten opsigte van aangetekende punte in ligabepalings) is tans heelwat beter as dié van Tuks, wat beteken dat hulle as kampioen aangewys behoort te word in geval die twee spanne met ewe veel ligapunte eindig. ABE Midas Naka Bulle sal dus òf net ‘n oorwinning moet behaal en die studente moet verhoed om meer as een bonuspunt te verwerf, òf hulle sal self ‘n bonuspunt-oorwinning moet aanteken.
‘n Oorwinning vir Tuks of ‘n gelykop-uitslag, sal die studente outomaties die nuwe Carltonbeker-kampioen maak.
Dié belangrike wedstryd tussen Tuks en ABE Midas Naka Bulle vind Saterdag om 16:00 plaas en word in die Tuks-rugbystadion beslis.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:Rekord Oos
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
