Local sportSport

Pa en dogter deel geskiedkundige Comrades marathon ervaring

‘n Padatleet van Pretoria het vanjaar slegs die twaalfde persoon in die geskiedenis geword om die Comrades marathon 40 keer suksesvol te voltooi.

Sedert die eerste Comrades marathon in 1921 aangebied is, het derduisende mense reeds dié wêreldberoemde ultra marathon voltooi en ‘n medalje in dié wedloop bly vir elke Suid-Afrikaanse padatleet ‘n uiterste doelwit.

Dan is daar diegene wat verder mik, want ‘n atleet wat tien wedlope suksesvol voltooi kry die eer om ‘n permanente groen nommer te kan dra. Dáárna word die vasbyters werklik van die res geskei. As ‘n atleet eers sy groen nommer het, begin hy streef na die ekstra lourierkranse op dié nommer – een ekstra lourierkrans vir elke tien keer wat hy dié moordende 89km suksesvol kon kafdraf.

Johann van Eeden van Akasia in Pretoria het homself tydens vanjaar se Comrades marathon aangesluit by ‘n groepie van slegs 12 atelete in die 93-jarige geskiedenis van die wedloop wat kan spog met ‘n vierde lourierkrans. Dit beteken hy het vanjaar sy 40ste Comrades voltooi.

Om die geleentheid soveel meer spesiaal en emosioneel te maak, het Van Eeden vanjaar se Comrades saam met sy dogter, Stella Weber, voltooi. Dit was haar tweede suksesvolle Comrades.

Vir die 64-jarige Van Eeden, ‘n tegniese opleidingebeampte by Necsa, het alles begin toe hy as 20-jarige jongman in 1974 sy eerste Comrades voltooi het. Die gogga het gebyt en hy was die volgende jaar terug. In die vyf jaar daarna het hy slegs een wedloop misgeloop weens ‘n weermag-kamp waarvoor hy opgeroep is.

Teen 1979 was hy ‘n gevestigde en ervare padatleet. Hy was gelukkig genoeg om min deur beserings gepla te word en volgens sy eie getuienis ook geseënd genoeg om goeie gesondheid te kon geniet, wat hom in staat gestel het om sedert 1979 die Comrades 33 keer agtereenvolgens suksesvol te kon voltooi.

Eers in sy laat 50’s het hy sedert 2012 ‘n paar terugslae beleef. Weens beserings en siekte het hy drie keer die Comrades misgeloop en verlede jaar moes hy gedurende die wedloop tou opgegooi.

Die terugslag van 2017 was veral ‘n teleurstelling, omdat hy en Weber beplan het dat haar eerste Comrades ook sy 40ste sou wees. Sy het toe alleen die wedloop voltooi, maar vanjaar was sy terug om weer die langpad saam met haar pa aan te durf.

Van Eeden en Weber erken albei dat hul sukses vanjaar vir ‘n besonder emosionele ervaring gesorg het.

Hoe lyk die toekoms en mik hy dalk nou na 50 suksesvolle wedlope? Voor Van Eeden egter op dié vraag kan antwoord begin sy vrou, Sanet, se kop beslissend heen en weer skud.

“Neewat, ek dink dis nou tyd om dit bietjie rustiger te vat,” sê sy dadelik.

Sanet, wat self in 2010 haar groen nommer verdien het toe sy haar tiende en laaste Comrades voltooi het, verduidelik dat die lewe van ‘n ernstige padatleet nogal baie opoffering verg.

Johann stem hiermee saam. Hoewel hy nie enige planne het om heeltemal op te hou harldloop nie, beplan hy ook nie om binnekort weer vir die Comrades in te skryf nie.

“Wie weet, dalk is ek oor sewe jaar, wanneer die 100ste Comrades plaasvind, nog sterk genoeg vir een laaste keer,” merk hy met ‘n breë gelimlag op.

Ook Weber is vir eers klaar met die Comrades. Sy en haar man, Wally, is egter toegewyde deelnemers aan avontuur-wedlope, ‘n sport wat groei in gewildheid en waarin atlete in ekstreme toestande oor verskillende terreine hardloop.

Intussen het Van Eeden se klub, die Akasia Atletiekklub, besluit om hom te vereer deur hul bekendste wedloop na hom te vernoem. Dié klub bied jaarliks die Wonderpark padwedloop aan, wat bestaan uit ‘n standaard marathon (42.2km), ‘n halfmarathon (21.1km) en ‘n 10km wedloop. Vanaf 2019 sal die 42,2km wedloop bekendstaan as die Johann van Eeden marathon.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button