Tukkies herwin Carltonbeker na twee droë seisoene
Nadat Centurion en Quins-Bobbies in 2016 en 2017 die sogenaamde “oopklubs” se naam hoog gehou het, het Tukkies hul oorheersing van die Carltonbeker toernooi in die huidige dekade bevestig toe hulle die afgelope Saterdag as die nuwe kampioen gekroon is.
Tukkies het hul oorheersing van die Carltonbeker liga in die huidige dekade die afgelope Saterdag hervat, toe hulle ABE Midas Naka Bulle met 49-32 geklop het om as die 2018 kampioen gekroon te word.
Hoewel daar vanjaar geen amptelike finaal was nie, het die ligabepalings só verloop dat die wenner van Saterdag se laaste ligawedstryd in die toernooi tussen dié twee spanne ook die kampioen sou bepaal.
Die wedstryd het dus inderdaad as eindstryd gedien en danksy baie moeite deur Tuks se bestuur is daar ook ‘n eindstryd atmosfeer in dié klub se rugbystadion geskep.
Voor die afskop is die twee spanne deur hul onderskeie klub-presidente (Susan Adendorff van Tuks en James Young van ABE Midas Naka Bulle), asook deur die president van die Blou Bulle Rugby-unie, Willem Strauss, sterkte toegewens. Daarna is die volkslied gesing voor die wedstryd kon begin.
Vanaf die oomblik toe die bal afgeskop is, was die seremonies vergete en die twee spanne het mekaar behoorlik die stryd aangesê. Die kwaliteit van die aksie wat opgedis is, het weer die standaard van klubrugby in Pretoria bevestig, ten spyte van die feit dat slegs vier spanne in die Carltonliga meeding. Trouens, verskeie spelers van beide dié twee spanne het reeds professionele rugby op junior en senior vlak gespeel.
Tukkies het die wedstryd met ‘n reuse knal begin, nadat druk en senuwees ‘n paar van die besoekers se spelers lelik laat kleitrap het tydens die heel eerste afskop. Tuks se groot slot, Brian Leitch, het die bal opgepik en net dertig sekondes na die afskop kon hy in die hoek oorduik vir die eerste drie van die wedstryd.
Die manne van die Moot het egter gou herstel na dié blaps en drie minute later het een van die kompetisie se top driedrukkers, linkervleuel Frans Botha, ‘n beweging afgerond met ‘n puik drie.
Daarna het die momentum weer geswaai met skeidsregter Stephan Geldenhuys (wat andersins sy gebruiklike bestendige vertoning gelewer het) se geelkaart aan Riekert Korff, woelige flank van ABE Midas Naka Bulle. Dit was so vroeg in die wedstryd waarskynlik ‘n effens oordrewe reaksie teen Korff se oortreding tydens ‘n aanvallende dryfbeweging van Tuks.
Onnodige waaghalsige spel in die rooi gebied het Naka verder onder druk geplaas en aan Tuks hul tweede drie op ‘n skinkbord gegee.
Ten spyte hiervan het Sylvester Booysen en sy manne vasgebyt en self nog twee keer gaan druk. Teen rustyd was die spanning nog hoog met die telling op 23-22 in Tuks se guns.
Na rustyd het ABE Midas Naka Bulle verwoed ingeklim om die gety te draai, maar Geldenhuys het hulle genadeloos gestraf vir hul oorywerige spel by die afbreekpunte en op die onkantlyn, wat aan Tuks se gewese Griekwas losskakel, Steven Moir, die kans gegee het om die telbord aan die rol te hou met 15 punte via suksesvolle strafdoele.
ABE Midas Naka Bulle het nooit ophou veg nie, maar die studente het ook nooit hul greep op die wedstryd laat verslap nie, terwyl hul reserwes (wat ses spelers met Curriebeker ervaring ingesluit het) ‘n reuse verskil kon maak.
Voorlangs het die twee spanne mekaar goed opgekeil. Die verskil was waarskynlik die skakelpare, waar Tuks se ervare provinsiale spelers, Hanco Venter en Moir, strate beter was as hul teenstand. ABE Midas Naka Bulle se agterlyn het nét te veel ongedwonge foute begaan, wat fataal was in ‘n belangrike wedstryd soos dié.
Vir Tuks se hoof afrigter, Nico Luus, was die wedstryd ‘n persoonlike triomf. Hy spog nou met twee agtereenvolgende Carltonbeker titels, nadat hy as Quins-Bobbies se afrigter verlede jaar ironies genoeg teen die einste Tukkies sukses behaal het in die eindstryd.
Tuks se oorwinning het aan hulle hul sesde Carltonbeker titel van die huidige dekade besorg.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:Rekord Oos

