Garsies en Menlo kry albei pak in Virseker-Beker toernooi
Garsfontein en Menlopark se rugbyspanne het albei die afgelope naweek hul Virseker-Beker wedstryde verloor en dit lyk of veral die Parkies se manne gaan sukkel om nog vir die halfeindrondte te kwalifiseer.
Die hervatting van die Beker-liga in afdeling een in die gewilde Virseker-Beker skolerugby toernooi ná die Julie vakansie het nie goed begin vir Pretoria se twee deelnemers nie.
Beide Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Menlopark het die afgelope Saterdag belangrike kragmetings in dié toernooi verloor.
Helpmekaar Kollege van Johannesburg het hul oorheersing van Garsfontein voortgesit met hul oorwinning van 31-25 oor Garsies se Bere. Dit was Helpmekaar se vierde oorwinning oor Garsfontein sedert 2016 en die Johannesburgers het daarmee Garsfontein se onoorwonne rekord in vanjaar se toernooi verbreek.
Verbroude kanse en swak verdediging – dít is die kort en kragtige wyse waarop Garsfontein se nederlaag beskryf kan word. Die Bere het die skrums deurgaans oorheers en hulle het die besoekers soms meters teruggeskrum, maar hulle kon nie daarin slaag om hierdie voordeel deurslaggewend in hul guns te gebruik nie.
Daarenteen het Garsfontein ‘n horde kanse verbrou om punte aan te teken met ongedwonge foute en swak hantering op kritieke tye wanneer hulle Helpmekaar in die gevaarsone onder druk gehad het.
Garsies het die besoekers ook ‘n guns gedoen met lakse verdediging, wat direk tot drie van die wenspan se vier drieë gelei het.
Die nederlaag is egter nie ‘n groot krisis vir die Garsies se veldtog nie. Hulle kans om die halfeindrondte te haal is steeds baie goed, maar hulle sal eerskomende Vrydag tuis teen Nelspruit besis weer op die wenpad wil kom.
* Menlopark se kanse om die halfeindrondte van die toernooi se Beker-liga te haal het ‘n reuse knou gekry met hul nederlaag van 26-40 teen Monument van Krugersdorp. Dit was hul derde nederlaag in die reeks en dit was boonop ‘n wedstryd wat Menlo móés wen, aangesien dit op hierdie stadium lyk op hulle juis met Monnas gaan meeding om ‘n plek in die halfeindrondte.
Om ‘n kans te staan op ‘n plek in die halfeind sal Menlopark in hul laaste twee bepalings goeie oorwinnings moet behaal teen Transvalia en EG Jansen. Dan sal hulle boonop moet hoop dat Monnas albei hul laaste wedstryde teen Helpmekaar en HTS Middelburg verloor.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:Rekord Oos
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



