Local sportSport

Pretorianer was jongste Comrades atleet in 2018

‘n Onderwys-student van Pretoria was vanjaar die jongste atleet wat die Comrades marathon suksesvol kon voltooi.

Vanjaar se Comrades marathon was een van besonderse prestasies vir Pretorianers.

Nie alleen het twee plaaslike dames, Gerda Steyn (tweede) en Charné Bosman (vyfde) onder die goue medaljewenners in die vroue-afdeling geëindig nie, maar twee manne, Johann van Eeden (40ste Comrades) en Werner Kriel (30ste agtereenvolgende Comrades), het ook deel van die geskiedenis van die wedloop geword.

Daar is egter 20-jarige ‘n jongman van Pretoria wat self so stil-stil ‘n buitengewone prestasie behaal het.

Ruan Britz, ‘n onderwys-student van Montana, was vanjaar amptelik die jongste atleet wat die Comrades suksesvol kon voltooi. Dít is reeds ‘n besondere prestasie, maar Britz se verhaal het ‘n paar kinkels wat sy vertoning soveel meer merkwaardig maak.

Hy was op skool nooit ‘n uitstaande atleet nie. Trouens, Britz het by die Hoërskool Montana, waar hy twee jaar gelede gematrikuleer het, eerder krieket en tennis gespeel.

Aan die einde van sy matriekjaar het hy vir ontspanning begin draf en sommer gou het die gogga gebyt. Hy het by die Fit Pretoria Atletiekklub aangesluit en die volgende jaar as student aan padwedlope begin deelneem. Sommer gou was hy verlief op die langpad.

Hoewel hy ‘n paar nie-amptelike marathons voltooi het, kon hy nie voorheen vir die Comrades kwalifiseer nie, aangesien ‘n kwalifiseerder 20 jaar oud moet wees. Britz was egter vasbeslote om vanjaar reeds die Comrades aan te durf, al het hy bittermin ervaring van wedlope langer as 42km gehad.

Toe hy op 30 April vanjaar 20 word, het hy besluit om op 1 Mei in te skryf vir die Wally Hayward marathon in Centurion – ‘n wedloop wat deur baie laatslapers gebruik word om vir die Comrades te kwalifiseer. Hy het dit reggekry en daarna was hy vuur en vlam om sy eerste Comrades aan te durf.

Met die hulp van ervare manne soos Werner Kriel en Rudolph Heck by Fit Pretoria het hy sy voorbereiding in die maand voor die Comrades in alle erns voltooi.

Baie ander atlete het egter gedink dié entoesiastiese jongman het té groot gehap en sou dit nie maak nie. By nabetragting erken Britz self dat hy ‘n groot kans gevat het. Hy het immers net 560km tydens sy voorbereiding vir die wedloop afgelê.

Op die dag van die Comrades het Britz tot by die 68km merk redelik gevorder, voordat die teëspeod hom begin inhaal het. Hy het veral gesukkel met seer knieë. Danksy die bystand van familie en mede-atlete het hy egter besluit om aan te hou stap, aangesien hy op daardie stadium al die afsnytye geklop het en sukses dus binne bereik was.

“Ek het basies die laaste 20km gestap, maar ek het heeltyd die horlosie dopgehou en my raadgewers het my verseker dat ek op koers is,” het hy aan Rekord vertel.

Uiteindelik het hy met die tyd op 11 uur en 57 minute oor die wenstreep gedraf, wat beteken dat hy die afsnytyd met drie minute geklop het.

Kenners met wie Rekord gesels het is dit eens dat hierdie prestasie van Britz iets besonders is. As hy dit as 20-jarige met so min ondervinding en voorbereiding kon regkry, het hy beslis die potensiaal om ‘n baie goeie padatleet te word.

Nadat hy kon skouers skuur met die top atlete by die prysuitdeling seremonie van die Comrades, waar hy die trofee as jongste suksesvolle atleet ontvang het, droom Britz selfs groter drome.

Hy het aan Rekord gesê hy sien reeds uit na ‘n lang loopbaan as padatleet en hy glo dat hy veral in ultra marathons naam sal kan maak.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button