Montana atleet presteer in Europa
‘n Skoolseun van Pretoria het met internasionale teenstand afgereken by ‘n onlangse internasionale atletiekbyeenkoms in Intalië.

Terwyl sy vriende die afgelope vakansie kon ontspan en laatslaap in die winterweer, het een graad 10 leerling van Hoërskool Montana die warmer weer in die noordelike halfrond gaan trotseer om ‘n besonderse atletiekprestasie te behaal.
Nadat Ruan Human verlede jaar die spiesgooi item gewen het in die jeug-mans afdeling by die OR Tambo Soncini Games, het hy die geleentheid gekry om aan ‘n byeenkoms in Italië te gaan deelneem.
Human het dus sy onlangse vakansie opgeoffer om jong atlete vanoor die hele wêreld aan te durf in die Tricolore International Games in Reggio Emilia, ‘n stad in die nooorde van Italië.
Dié jong Pretorianer het sy kans deeglik aangegryp om homself op die internasionale verhoog te laat geld. Hy het aan die spiesgooi vir seuns onder-17 deelgeneem by die byeenkoms en met ‘n afstand van 67,17m het hy al die teenstanders uitgestof om die goue medalje te wen.
Hierdie afstand was ook Human se persoonlike beste, wat ’n merkwaardige prestasie is as in ag geneem word dat die byeenkoms buite die Suid-Afrikaanse seisoen plaasgevind het.
Dit spreek natuurlik boekdele vir Human se toewyding en harde werk ter voorbereiding van die byeenkoms. Hier is beslis ‘n jong atleet wat in die toekoms dopgehou kan word.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
