Local sportSport

Tuks en Naka ontmoet weer in Super Klubliga eindstryd

Tukkies en ABE Naka Bulle spook op 18 Augustus sake uit in die eindstryd van die nuwe Super Klubliga.

Die rugbyspanne van Tukkies en ABE Midas Naka Bulle het bo enige twyfel bewys dat hulle die twee beste spanne in die nuwe interprovinsiale Super Klubliga is.

Dié twee klubspanne ontmoet mekaar op Saterdag 18 Augustus op Loftus Versfeld in die heel eerste eindstryd van hierdie nuwe toernooi, nadat hulle die afgelope naweek onderskeidelik met Quins-Bobbies (QBR) en Rustenburg Impala afgereken het in die halfeindstryde.

Op hul tuisveld op die Tuks Sportkampus het Nico Luus se Tukkies in die een halfeindstryd ‘n moedige span van QBR met 67-17 kafgedraf en hulle is steeds onoorwonne in die toernooi. Tuks het 10 drieë gedruk en daarmee ‘n duidelike boodskap gestuur dat hulle gereed is om die nuwe Superliga trofee te voeg by die Carltonbeker, wat hulle verlede maand verower het.

In die ander halfeindstryd moes ABE Naka Bulle na Rustenburg reis om Impala daar op hul tuisveld aan te durf. Anders as die wedstryd in Hatfield was dié stryd baie taaier en die manne van die Moot moes alles uithaal om die Noordwesters te klop.

Die eindtelling was 27-19 in die guns van ABE Naka Bulle.

Met vier drieë teen drie was Sylvester Booysen en sy manne uiteindelik welverdiende wenners. Hulle sal nou ‘n tweede kans kry om ‘n trofee te wen in hul 21ste bestaansjaar, nadat Tukkies verlede maand die Calronbeker voor hul neuse weggeraap het.

* Die halfeindstryde van die Presidentsliga het ten minste een groot verrassing opgelewer toe ‘n gedetermineerde span van die Grizzlies (Tuine Sportklub) met Tukkies se naasbestes, die Fezelas, afgereken het om vir die eindstryd te kwalifiseer.

In dié liga het ‘n aantal spanne uit die Blou Bulle se gewese Eersteliga teen top klubs se tweedespanne meegeding en die Grizzlies het met hul plek in die eindstryd gewys dat hulle steeds op pad is na hul droom om uiteindelik ‘n volwaardige Carltonbeker klub te word.

Fezelas was die voorlopers tot in die doodsnikke van die wedstryd, maar die Grizzlies wou eenvoudig nie besgee nie. Toe ‘n strafskop aan hulle toegeken word met sowat een minuut speeltyd oor, het die manne uit die Weste ‘n tikskoppie gewaag en die bal lug gegee. Dié waagstuk het op ‘n drie uitgeloop, wat hulle in staat gestel het om Fezelas met 30-29 te klop.

Die Grizzlies sal op 18 Augustus teen Rustenburg Impala te staan kom in die eindstryd. Die Noordwesters se tweedes het hul eweknie van ABE Naka Bulle in die ander halfeindstryd met 45-43 geklop.

* Grizzlies se derdespan het ook deurgedring na die eindstryd deur die Dragons met 35-13 te klop.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button