Johnnie Reitz stoeitoernooi vier 40ste verjaardag
Die gewilde Johnnie Reitz Big Five stoeitoernooi is die afgelope naweek vir die 40ste keer deur Noord-Gauteng Stoei in Pretoria aangebied.

Suid-Afrika se oudste interprovinsiale stoeitoernooi, die Johnnie Reitz Big Five, is die afgelope Saterdag vir die 40ste keer in Pretoria aangebied.
Die Rembrandt saal op die Universiteit van Pretoria se Sportkampus was oudergewoonte die tuiste van dié gewilde stoei skouspel.
Hierdie toernooi, wat vernoem is na die legendariese Suid-Afrikaanse stoei administrateur en stigter van die Reitz Stoeiklub, word sedert 1978 ononderbroke deur Noord-Gauteng Stoei aangebied.
Daar word voorsiening gemaak vir stoeiers van so jonk as ses jaar tot by senior manne. Meisies en vroue se deelname aan die toernooi groei ook jaarliks en verskeie lede van die skoner geslag het gewys dat hulle ook op die stoeimat hul kant kan bring.
Die toernooi maak voorsiening vir gevegte in die Grieks-Romeinse styl, sowel as Vrystyl.
Soos die tweede deel van die toernooi se naam aandui, ontvang presteerders medaljes met afbeeldings van Suid-Afrika se Groot Vyf wildspesies daarop afgedruk. Dié afbeeldings word jaarliks afgewissel en vanjaar het die Buffel weer aan die beurt gekom om op die medaljes te pryk.
Die toernooi groei steeds na al die jare en vanjaar se 40ste Johnnie Reitz Big Five het 630 stoeiers vanoor die hele Suid-Afrika gelok. Al nege die provinsies was verteenwoordig deur die 56 klubs wat stoeiers ingeskryf het.
Noord-Gauteng Stoei het hulself weer puik van hul taak gekwyt om die logistiek van die toernooi seepglad te hanteer. Behalwe vir die groot aantal stoeiers was 157 afrigters op hul pos gedurende die dag se aksie langs die sewe matte in die saal. Daar was ook 65 skeidsregters in aksie.
Weens die feit dat die toernooi in Augustus (Vrouemaand) plaasvind, het Noord-Gauteng Stoei vroue se aandeel in hul sport as tema gebruik vir vanjaar se toernooi.
Jeannie Coetser, mede-stigter van die organisasie, Women-in-Wrestling, was self in aksie by die toernooi. Coetser is nie net steeds aktief op die mat en een van Suid-Afrika se beste vroue stoeiers nie, maar sy is ook self ‘n afrigter en administrateur. Sy is verlede jaar op 29-jarige ouderdom verkies as een van die Suid-Afrikaanse Stoeifederasie (SAWF) se vise-presidente – een van die jongste administrateurs ooit in so ‘n hoë pos én die eerste vrou om dit te vermag.
Coetser het aan Rekord gesê dat Women-in-Wrestling saamwerk met die SAWF om stoei onder meisies uit te brei en as gewilde sport te vestig. Hul doelwit is om ‘n omgewing te skep wat die sport meer aantreklik vir meisies en vroue te maak en hulle teiken tans veral meisies in die ouderdomsgroep 7-12.
Hoewel hulle hoop om ‘n situasie te skep waar daar massa deelname onder vroue sal wees, is dit nie vreemd om by toernooie soos die Johnnie Reitz Big Five gevegte te sien waar meisies in die jonger ouderdomsgroepe teen seuns deelneem nie. Coetser het bevestig dat navorsing bewys het dat meisies tot op die ouderdom van 12 fisiek op gelyke voet met seuns kan kompeteer.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:



