Menlopark wéér nasionale netbalkampioen
Hoërskool Menlopark het Afrikaans Hoër Meisieskool die afgelope naweek in die eindstryd van die Nasionale Skole Netbalkampioenskap naelskraaps geklop om weer as Suid-Afrikaanse kampioen gekroon te word.
Die Hoërskool Menlopark se eerste netbalspan het die afgelope naweek daarin geslaag om hul titel as Suid-Afrikaanse kampioen suksesvol te verdedig.
Menlopark en hul bure en aartsvyand van Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) het die Nasionale Skole-kampioenskap op die Wits kampus in Johannesburg oorheers en hulle het uiteindelik teen mekaar te staan gekom in die eindstryd.
Die toernooi was ‘n goeie getuigskrif vir die kwaliteit van skole netbal in Pretoria, met vier plaaslike spanne tussen die agt deelnemers. Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Zwartkop was die twee ander plaaslike deelnemers, terwyl HTS Middelburg, Hoërskool Sentraal (Bloemfontein), Hoërskool Ben Vorster (Tzaneen) en Hoërskool Outeniqua die ander spanne was wat na die toernooi deurgedring het.
Na die rondomtalie rondte van die toernooi het Menlopark met Sentraal (26-24) in die een halfeindstryd afgereken, terwyl AHMP vir Zwartkop )24-22) in die ander halfeindstryd geklop het.
Die eindstryd tussen Pretoria se twee netbal kragte was ‘n titaniese en spannende skouspel. Die telling het gereeld wipplank gery, maar Menlopark het uiteindelik daarin geslaag om Affies met 24-23 te klop.
Met hierdie uitslag het Menlopark die bodjies verhang, nadat AHMP hulle in die eerste rondte van die toernooi met 25-21 geklop het.
By die prysuitdeling seremonie na afloop van die toernooi is Menlopark se kaptein, Lucy Strydom, as bonus vir die skool ook aangewys as Speler van die Toernooi.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:


