Eldoraigne deur na Virseker Beker eindstryd
Hoërskool Eldoraigne speel eerskomende Saterdag in die Tuks Rugbystadion in die eindstryd van die Virseker Beker Plaatafdeling teen Noordheuwel.

Hoërskool Eldoraigne se eerste rugbyspan het deurgedring van die eindstryd in die Plaat-afdeling van die Virseker Beker toernooi toe hulle Hoërskool Marais Viljoen van Alberton in Saterdag se halfeindstryd met 44-38 geklop het.
Eldoraigne het ‘n baie goeie seisoen in dié toernooi beleef en hulle het bo aan die punteleer geëindig ná die ligafase.
Hoewel Marais Viljoen met ‘n groot aanslag gekom het om ‘n verrassing te probeer lewer, kon Eldoraigne daarin slaag om dit af te weer en met hul opwindende spel die drieë in te ryg.
Die Eldo Drake sal eerskomende Saterdag in die Tuks Rugbystadion in die eindstryd teen Noordheuwel van Krugersdorp te staan kom. Die Wesranders, wat tweede op die punteleer geëindig het, moes self hard werk om ‘n groot aanslag van Kempton Park af te weer. Noordheuwel het die ander halfeindstryd met 24-22 gewen.
‘n Taai eindstryd word verwag, aangesien Noordheuwel die enigste span is wat Eldoraigne in die ligafase kon klop. In dié wedstryd, wat vroeg in Juniemaand gespeel is, het Noordheuwel naelskraaps met 29-28 gewen.
Eldoraigne sal eerskomende Saterdag hoop om selfs groter sukses te behaal, aangesien die skool se onder-16’s ook na die eindstryd deurgedring het. Dié span het ook met Marais Viljoen afgereken (29-24) in die halfeindstryd en speel in die eindstryd teen Rustenburg.
* Hoërsool Zwartkop se onder-14 span speel Saterdag in die eindstryd teen hul eweknieë van Noordheuwel. Die Zwarries se jongelinge het Rustenburg die afgelope naweek met 30-19 in die halfeindstryd geklop.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:





