Oos-Moot dring deur na Virseker Beker eindstryd
Hoërskool Oos-Moot het deurgedring na die Virseker Beker eindstryd, nadat hulle die afgelope Saterdag in die halfeindstryd met Hoërskool Lichtenburg afgereken het.
Die Hoërskool Oos-Moot se eerste rugbyspan draf eerskomende Saterdag in die Tuks Rugbystadion uit in die eindstryd van die Skild-afdeling van die Virseker Beker toernooi.
Hoewel die Oosies ‘n paar terugslae beleef het en verskeie eerstekeuse spelers weens beserings nie kon speel nie, het die span Saterdag op hul tuisveld hul karakter en veggees gewys deur ‘n groot aanslag van Lichtenburg af te weer.
Oos-Moot het uiteindelik redelik maklik met 35-19 gewen, maar teen rustyd was die wedstryd nog in die wegskaal met die telling op 7-5 in die tuisspan se guns.
Twee weke gelede het Oos-Moot in ‘n weg-wedstryd in die ligafase maklik met Lichtenburg afgereken, maar in Saterdag se halfeindstryd het die manne uit Noordwes met ‘n reuse aanslag vir ’n verrassing probeer sorg.
Die eerste helfte was besonder taai en hoewel Oos-Moot nooit paniekerig geraak het nie, het hulle ‘n paar benoude oomblike beleef as Lichtenburg se agterlyn aan die hardloop gegaan het. Die tuisspan se verdediging het in dié eerste 35 minute ook soms gelol.
Oos-Moot se afrigters het in rustyd blykbaar die regte dinge gesê, want in die tweede helfte het dié span skielik hul snelrat gevind.
Die Moot se eie Ligbloues het minder foute gemaak en positiewe rugby begin speel, wat hulle in staat gestel het om vier drieë binne twintig minute te druk. Dié aanslag het die wedstryd vir hulle beklink, ten spyte van ‘n laat terugvegpoging van Lichtenburg, waartydens die besoekers twee drieë gedruk het.
Ruan de Lange, die huidige onder-17 Suid-Afrikaanse 110m hekkies kampioen het op linkervleuel weer gewys dat hy ‘n troefkaart is wanneer daar vir hom ruimte geskep word op die aanval. Op skrumskakel was die kaptein, Marco Vorster, ook vol ondernemingsgees en ten spyte van ‘n glips of twee by die lynstane het Jason Swanevelder op haker sy hart uitgespeel. Hy moes die plek van Oos-Moot se gereelde kaptein en Cravenweek speler, Eduan Swart, volstaan. Swart is uit aksie weens ‘n kniebesering.
Oos-Moot se lostrio het ook puik gekombineer en hulle het veral in die tweede helfte gesorg dat Lichtenburg swaar geleef het in die vastelos en by die afbreekpunte.
Eerskomende Saterdag ontmoet Oos-Moot weer vir Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen, die enigste span wat hulle vanjaar in die toernooi kon klop. Dit was egter heel aan die begin van die toernooi en ‘n strafdoel in die doodsnikke van die wedstryd het die wenner (52-50) bepaal.
Met Helpmekaar Kollege wat weens die nuwe, regverdiger, indeling van ligas in die Virseker Beker reeks deesdae saam met voormalige Makroskole speel, het Oos-Moot beslis Saterdag ‘n kans om vanjaar as kampioen in die Skild-afdeling gekroon te word.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:


