Oos-Moot smaak ná 36 jaar weer rugby-glorie
Die Hoërskool Oos-Moot het ‘n droogte van 36 jaar gebreek toe hulle Saterdag as kampioen in die Skild-liga van die Virseker Beker toernooi gekroon is.
Aanhouer wen, sê die spreukwoord. Dié gesegde geld na dese ook vir Hoërskool Oos-Moot se eerste rugbyspan.
Dié skool se eerstes het die afgelope paar jaar telkens die Stadsbeker gewen, maar dan in die Noordvaal streek oor die laaste hekkie gestruikel in die Virseker Beker toernooi.
2018 sal egter in die geskiedenisboeke opgeteken word as die jaar waarin Oos-Moot se eerstes uiteindelik daarin kon slaag om – ná ‘n droogte van 35 jaar – weer ‘n Noordvaal kampioenspan in die Virseker Beker toernooi op te lewer.
Oos-Moot het in 1982 laas hul enigste vorige titel in dié toernooi gewen. Destyds het die toernooi nog as die Administrateursbeker bekendgestaan. Later is die naam verander na die Direkteurstrofee, terwyl dit tot sowat drie jaar gelede as die Beeldtrofee bekendgestaan het.
Vanjaar het die Noordvaal Skolerugby Vereniging en Virseker, wat intussen die borgskap van die toernooi oorgeneem het en ook die naamregte bekom het, die toernooi se struktuur verander om ‘n krag-teen-krag stelsel te vestig.
Oos-Moot het in die ligafase slegs een keer verloor toe Hoërskool Ben Vorster in die laaste sekondes van die eerste ligawedstryd ‘n strafdoel behaal het om hulle met twee punte te klop. Saterdag kon die Oosies egter wraak neem in die Tuks Rugbystadion, toe hulle Ben Vorster in die eindstryd van die Skild-liga in afdeling een van die Virskeker Beker toernooi met 29-20 geklop het.
Maklik was dit egter nie, al was die Moot se Ligbloues rustyd reeds met 19-10 voor. Oos-Moot se manne moes hard werk om Ben Vorster van die doellyn weg te hou, maar hierdie keer het hulle baie beter gedoen op die verdediging en die teenstanders uit Tzaneen kon slegs drie keer die doellyn haal. Die wenspan het vier keer gaan druk.
Hierdie oorwinning het boonop ‘n interessante kinkel vir die geskiedenisboeke. Een van Oos-Moot se afrigters, Kobus Vorster, kan nou met die onderskeiding spog dat hy dié toernooi as speler én as afrigter gewen het. Hy was deel van Oos-Moot se kampioenspan wat die Administrateuersbeker in 1982 gewen het. Sy seun, Marco, was boonop Saterdag Oos-Moot se skrumskakel en kaptein, terwyl hy ook een van die span se drieë gedruk het.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:





