Local sportSport

Oos-Moot se rugbyhelde van weleer kuier saam met huidige kampioenspan

Die Hoërskool Oos-Moot se eerste rugbyspan van 1982 het onlangs ná 36 jaar ‘n reünie gehou en ook sommer die kans gekry om dié skool se huidige Virsekerbeker Skildtrofee kampioene te ontmoet.

Skolerugby het dramaties verander oor die afgelope paar dekades en deesdae is dit byna ondenkbaar dat ‘n skool uit die Moot van Pretoria 36 jaar gelede oor die beste rugbyspan noord van die Vaalrivier beskik het.

Lede van die Hoërskool Oos-Moot se eerste rugbyspan van 1982, wat daardie jaar as Direkteurstrofee kampioen gekroon is, het onlangs die geleentheid gehad om herinneringe terug te roep wat van hulle legendes gemaak het in die geskiedenis van dié skool.

Gert Rothtmann, slot en kaptein van Oos-Moot se eerste rugbyspan van 1982, het aan Rekord gesê dat hulle al ‘n paar jaar lank probeer om ‘n reünie vir dié span te reël, maar dat dit weens omstandighede nog nie voorheen kon plaasvind nie. Lede van die span wat steeds leef woon deesdae oor die hele land, terwyl een lid ook van Duitsland af gekom het vir die geleentheid.

Vyf lede van die span wat destyds in die eindstryd teen Hoërskool Pietersburg gespeel het, is reeds oorlede.

Uiteindelik het hul reëlings vanjaar gerealiseer en op merkwaardige wyse is dit ook beskik dat dié reünie toe plaasgevind het in dieselfde jaar wat die skool se eerstespan wéér ‘n soortgelyke titel kon wen. Oos-Moot se eerstespan is vanjaar as kampioen gekroon van die Virsekerbeker Skild-afdeling. Dié toernooi het ‘n direkte verband met die destydse Direkteurstrofee reeks.

Dit was ‘n dag vol heimweë en gesels oor al die herinneringe van dáárdie besondere seisoen, toe Oos-Moot se erg onderskatte eerstes vriend en vyand verras het. Die manne het by die skool se nuwe rugby klubhuis gekuier en is saam met hul gades met ‘n skaap op die spit getrakteer.

Rothmann onthou dat koerantskrywers sy span destyds gereeld as “te klein” beskou het voor belangrike wedstryde, maar dat hulle elke keer hul kritici se monde kon snoer. Hulle het in die halfeindstryd van die plaaslike (Pretoria) liga met Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) afgereken. Op pad na die algehele (Transvaal) eindstryd het hulle skole soos Hoërskool Klerksdorp en Hoërskool Transvalia geklop – albei skole wat destyds groot rugbykragte was.

“Ons het ‘n besondere ligte pak voorspelers gehad, maar met die tegniek wat ons gebruik het kon ons daarin slaag om makro-agttalle voos te skrum. Agter daardie rateltaai voorspelers het ons ‘n agterlyn met baie spoed gehad, wat twee provinsiale atlete ingesluit het,” het Rothmann vertel.

Die spanlede van destyds is ook nou nog vol lof vir hul afrigter, Gert van der Westhuizen, wat volgens hulle sy tyd ver vooruit was. Van der Westhuizen, wat ook die reünie bygewoon het, het afrigtingsmetodes gebruik wat toe nog vreemd was, maar deesdae in die professionele era algemene praktyk is.

Kobus Vorster, skrumskakel van die 1982-span, wat na sy skooldae ook vir Noord-Transvaal se o.19’s, o.23’s en B-span uitgedraf het, was vanjaar een van die 2018-kampioenspan se afrigters. Sy seun, Marco, is ook ‘n skrumskakel en het die span in die eindstryd aangevoer.

Rothmann het ook vertel dat hul eindstryd destyds teen Pietersburg op Loftus Versfeld gespeel is as voorwedstryd vir ‘n Curriebeker kragmeting tussen die destydse Noord-Transvaal en WP, wat meer as 60 000 toeskouers gelok het.

“Daardie dae het die toeskouers vroeg reeds opgedaag vir wedstryde en die paviljoen was byna vol toe ons uitgedraf het,” onthou hy.

Aan die einde van ‘n heerlike kuier-dag vol heimweë oor hul dae in Oos-Moot se beroemde ligblou trui het die manne ook ‘n kans gekry om ‘n besondere foto saam met die 2018 kampioenspan van die skool te neem. Hulle het saam die skoollied gesing, waarna hulle ook saam in die “heilige” Blou Kamer (eerstespan kleedkamer) bymekaargekom het. Dáár het die 2018 span hul strydkreet uitgevoer ter ere van die helde van 1982.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button