Laerskool Tuinrand lok weer honderde deelnemers na hul Mini-krieket dag
Byna 400 jong krieketgeesdriftige laerskoolkinders was verlede week deel van Laerskool Tuinrand se jaarlikse Mini-Krieket dag.

Selfs die uitbraak van varkgriep in dele van Pretoria kon nie verhoed dat Laerskool Tuinrand se vierde jaarlikse Mini-krieket dag vanjaar groter was as enige van die vorige soortgelyke dae nie.
Veertien laerskole vanoor die hele Pretoria het vanjaar spanne gestuur om deel te wees van hierdie Mini-krieket fees.
Deelnemende skole het van so ver as Rooiwal in die noorde (Laerskool Uniefees) en Rayton in die ooste (Laerskool Rayton) gereis na die sportterrein van die Tuine Sportklub, waar die krieketdag aangebied is. Seuns en meisies het in gemengde spanne saamgespeel.
Agt Mini-krieket velde is weer uitgelê op die Tuine Sportklub se A-rugbyveld. Die spel word met spesiale verkleinde kolwe van sintetiese materiaal en sagte balle gespeel.
Mini krieket is ’n formaat van die spel wat met die hulp van die restaurantgroep Kentucky Fried Chicken (KFC) landwyd aangebied word. Dié formaat is ontwerp om jong kinders, seuns én meisies, op ’n eenvoudige intreevlak aan die spel bloot te stel. Elke span bestaan uit agt spelers en elke speler moet ’n kans kry om aktief aan alle aspekte van die spel deel te neem. Op hierdie manier word daar verhoed dat die spel onder kinders op dié jong ouderdom gedomineer word deur uitblinkers, terwyl almal ’n liefde vir krieket ontwikkel.
Een van KFC se belangrikste doelwitte met hierdie formaat van krieket is om so veel as moontlik kinders betrokke te kry om sodoende ’n aktiewe leefstyl onder almal te bevorder.
Ouers, onderwysers en ander ondersteuners het weer oral langs die mini-krieketvelde saamgedrom om die jong krieketspelers met oorgawe te ondersteun en aan te moedig.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:



