Die lesse van die Blou Bulle se Mitchell-episode
Die nuwe bestuur op Loftus Versfeld sal in die volgende paar weke raakvat-besluite moet maak as hulle die gety vir die Blou Bulle en die Bulls wil draai.
Die John Mitchell hoofstuk op Loftus Versfeld is gelukkig verby en daar moet nou na die toekoms gekyk word. ‘n Paar baie belangrike aspekte kan egter nie geïgnoreer word voor daar besluite oor die toekoms geneem word nie.
Sowat 16 maande gelede was daar groot opgewondenheid op Loftus Versfeld en daar is geglo dat Mitchell die man sou wees wat weer silwerware in die vertoonkas sou versamel. Diegene wat dit durf waag het om vrae te vra oor die man se omstrede verlede as afrigter is byna as misdadigers uitgekryt en behandel.
Ook vrae oor die risiko wat geloop word om die toekoms van die 80-jaar oue baie unieke Bloubul kultuur in die hande van ‘n eksklusief Engelstalige Nieu-Seelander te laat en aan hom uitvoerende mag te gee as Direkteur van Rugby, is òf geïgnoreer òf met ‘n geïrriteerde houding afgeskiet.
Mitchel self het ewe kortdaad vertel dat hy “presies weet wat om te doen” om die span reg te dokter en Loftus weer vol te pak.
Die res is geskiedenis. Mense is afgedank, ander verneder en gedemoveer en vreemde spankeuses is gemaak, maar die resultate het min of meer dieselfde gebly.
Na die mislukking van die Bulls se SuperRugby veldtog vanjaar het Mitchell skielik nuwe praatjies begin maak. Toe beledig hy al die talentvolle jong spelers op Loftus Versfeld, waarvan daar nog baie is. Skielik wou hy ‘n groter begroting hê, want hy wil supersterre gaan koop om wedstryde te begin wen.
Behalwe vir enkele leemtes, soos op vaskopstut en vleuel waar die Bulle een of twee wêreldklas spelers ontbreek, is daar oorgenoeg talent op Loftus om onder die regte leiding en omstandighede weer ‘n SuperRugby kampioenspan te kweek.
Uit die binnekring sal daar nou nog baie teenstrydige stories wees oor Mitchell se invloed. Ja, hy is tegnies ‘n goeie afrigter van aanvallende spel. Maar op die langer duur sal selfs sy grootste dissipels moet erken – hy het eenvoudig nie die kenmerk van ‘n suksesvolle hoofafrigter in moderne rugby nie.
Daar moet juis uit die Mitchell debakel geleer word hoe belangrik dit is dat iemand in daardie posisie met mense kan werk en dinamies moet kan wees om die jong manne se karakter te kan bou.
‘n Rugbyspeler – op enige vlak – moet sy afrigter kan vertrou. Daar kan soms harde woorde val, maar dít moet agter die toe deure van ‘n kleedkamer of op die oefenveld gebeur. ‘n Speler moet nie in die koerante en op sosiale media lees en hoor hoe sy afrigter hom in die openbaar afbreek of negatiewe kritiek teen hom het nie.
Nie een van Mitchell se voorgangers by die Bulls – Heyneke Meyer, Frans Ludeke of Nollis Marais – het ooit so-iets gedoen nie.
Daar is ook nog twee ander aspekte wat in gedagte gehou moet word deur die besluitnemers wat die toekoms van die Blou Bulle in hul hande het.
Eerstens, die unieke Bloubul kultuur, wat oor 80 jaar gebou is, kan nié geïgnoreer word nie. Pretoria en die Blou Bulle is uniek en anders as ander stede en ander unies. Diegene wat hierdie feit wil ignoreer of verander, sal mettertyd besef watter effek dit het op dinge soos ondersteuners se lojaliteit.
Om byvoorbeeld die rooi madeliefie van die Blou Bulle se Curriebeker trui af te haal, is ‘n baie dom ding om te doen. Dieselfde geld vir kleinlike politiek soos die verbanning van Steve Hofmeyr se Bloubul Lied op Loftus Versfeld – ná 20 jaar as deel van die Loftus kultuur – weens die misplaaste druk van ‘n klein groepie individue.
Kyk ‘n mens na die sukses van die Blou Bulle tussen 2001 en 2010 en die Bulls tussen 2005 en 2010, staan een ding uit – daar was een groot gelukkige familie op Loftus Versfeld. Dieselfde geld vir die Leeus tussen 2013 en 2018. Die les wat hieruit te leer is, is dat die regte mense binne die regte kultuur sukses sal behaal. Dit gaan nie net oor ‘n Superman-hoofafrigter nie. Rugby is ‘n spansport en elke rat in die masjien moet geolie wees om die masjien op al sy silinders te laat loop.
Een van die lesse wat die afgelope paar jaar op Loftus duidelik was, is die belangrikheid van die hoofafrigter se ondersteuningspan. Ons weet byvoorbeeld nou by nabetragting watter groot rol die briljante dinamika en invloed van ‘n goeie spanbestuurder soos Wynie Strydom in die goue jare tussen 2002 en 2010 gespeel het. Daardie les mag nie vergeet word nie.
Die Mitchell debakel het wel een feit bewys – daar is nie iets soos towerstaf oplossings in ‘n situasie soos dit waarin die Blou Bulle beland het nie. Die dinamiese nuwe bestuur van die Blou Bulle sal moet raakvat om weer ‘n gelukkige familie op Loftus te vestig. Dit sluit spelers, afrigters en ander bestuurslede in.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

