Garsies se gewilde King Price Spele het gekom om te bly
Die sukses van die tweede aanbieding van Hoërskool Garsfontein se King Price Spele het gewys dat dié unieke atletiekbyeenkoms gekom het om te bly.
Die sukses van Hoërskool Garsfontein se King Price Spele, wat verlede week vir die tweede keer aangebied is, het bewys dat dié gewilde atletiek-konsep reeds ‘n hoogtepunt op die plaaslike skole-atletiek program geword het.
‘n Stampvol paviljoen by die Tuks Atletiekstadion het getuig dat die konsep ewe gewild is by toeskouers as by atlete.
Van die beste atletiekskole in Gauteng en Noordwes het deelgeneem. Uit Pretoria was daar die gasgeer, Hoërskool Garsfontein, asook Hoërskool Menlopark, Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Oos-Moot.
Ander Gauteng skole wat deelgeneem het was Hoërskool Transvalia (Vanderbijlpark), Helpmekaar Kollege (Johannesburg) en Hoërskool Kemptonpark, terwyl Potchefstroom Gimnasium uit die Noordwes provinsie gereis om deel te wees van die aksie.
Slegs drie ouderdomsgroepe (o.14, o.15, o.16 en o.17) het aan die byeenkoms deelgeneem. Matrieks (o.19) word uitgesluit weens hul voorbereiding vir die eindeksamen.
‘n Uitstaande kenmerk van die byeenkoms is dat elke skool in spanverband deelneem, wat beteken daar is geen klem op individuele prestasies nie. Elke skool se span bestaan uit 80 atlete – 20 van elke ouderdomsgroep.
Die program bestaan uit agt baan-items, terwyl elke skool ook ‘n span per ouderdomsgroep ingeskryf het vir veld-items soos spiesgooi, diskus, gewigstoot, verspring en hoogspring. Die baan-items, wat slegs uit verskillende aflos wedlope bestaan, word sowat 50 minute uit mekaar afgehandel, terwyl die veld-items tussendeur plaasvind.
Elke ouderdomsgroep (seuns en meisies apart) kry ‘n beurt om gelyktydig deel te neem aan al vyf die velditems. Atlete kry egter elk slegs twee pogings per item en hierdie twee pogings moes binne drie minute afgehandel word.
Na afhandeling van elke ouderdomsgroep se veld-items word deelnemers se prestasies gesamentlik verwerk. Dan word onmiddelik bepaal watter skole se spanne het die eerste drie plekke behaal. Dié drie spanne ontvang dan kontantpryse met die borg se komplimente op ‘n podium voor die hoofpavlijoen.
Die eerste baan-items is 4x100m hekkies aflosse vir seuns en meisies, waartydens die o.14’s wegspring en die o.17’s die finale been hardloop.
Daarna volg wissel-afstande vir seuns en meisies, waartydens die verskillende ouderdomsgroepe verskillende afstande aflê.
Later volg ‘n 4x600m aflos vir seuns en meisies, terwyl twee aflos-items met gemengde spanne ook tussendeur ingepas word.
Hoërskool Menlopark was vanjaar weer die algehele wenner van die Spele.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:




