Local sportSchool sportSport

Montana atleet ryg die kampioenskaptitels én eerbewyse in

‘n Leerling van Hoërskool Montana is ná ‘n skitterende jaar van atletiek- en landloop prestasies aangewys as Atletiek Gauteng-Noord se beste vroue landloopatleet.

Die sestienjarige Carmie Prinsloo van Hoërskool Montana se atletiekloopbaan het die afgelope jaar skielik in die snelbaan beland, sedert sy in Desember verlede jaar na die Suid-Afrikaanse landloop proewe uitgenooi is.

Prinsloo het by dié byeenkoms ‘n tweede plek behaal en sedertdien het sy ‘n ongelooflike jaar as atleet beleef.

By die Suidelike-Afrika Landloopkampioenskap word sy as kampioen gekroon en daarna behaal sy ‘n 19de plek by die Afrika Landloopkampioenskappe, waar sy teen die bestes van lande soos Kenia en Ethiopië te staan kom.

Tydens die Suid-Afrikaanse Skole Atletiekkampioenskap wen sy beide die 1500m en 3000m, wat beteken dat sy dus nog twee kampioenskaptitels agter haar naam kon skryf.

Daarna haal Prinsloo die Suid-Afrikaanse span na die Afrika Jeugspele in Algerië, waar sy ‘n puik sesde plek in die 3000m behaal.

Tydens die Atletiek Gauteng-Noord (AGN) landloopseisoen wen sy nóg ‘n titel toe sy die goue medalje in die o.16-wedloop by die provinsiale kampioenskap inpalm.

As lid van die AGN-span wen sy ook die Suid-Afrikaanse landloopkampioenskap in haar ouderdomsgroep en verower dus haar vyfde kampioenskaptitel van 2018.

Prinsloo se puik prestasies is verlede maand beloon met ‘n plek in die Suid-Afrikaanse span wat aan die Jeug Olimpiese Spele in Argentinië deelgeneem het. Daar neem sy deel teen die beste jeugatlete ter wêreld en behaal ‘n vierde plek in die 3000m vir dogters o.17.

By dieselfde spele in Buenos Aires neem Prinsloo ook deel aan die landloop-afdeling, waar sy ‘n 13de plek behaal.

Die afgelope naweek is Prinsloo se puik seisoen afgesluit met die kersie op die koek toe sy by AGN se prestige toekennings aangewys is as die beste Vroue Landloopatleet van die jaar.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button