Garsies is nuwe Noordvaal krieketkampioen
Hoërskool Garsfontein het die afgelope naweek gewys dat hulle nie net rugby kan speel nie, maar ook die wilgerlat kan swaai op die krieketveld, toe hulle as die nuwe kampioen in die Gunn&Moore Noordvaal skolereeks gekroon is.
Die Hoërskool Garsfontein se krieketspan het die afgelope Saterdag geskiedenis gemaak toe hulle die eerste span in dié skool se geskiedenis geword het om as kampioen in die gesogte Gunn&Moore Noordvaal skolereeks gekroon te word.
Die Garsies het die verdedigende kampioen in die toernooi, Hoërskool Waterkloof, met twee paaltjies in die eindstryd op St Alban’s College se krieketveld geklop om dié prestigeryke toernooi – wat reeds 95 jaar oud is – te wen.
Met hierdie oorwinning het Garsfontein die heerskappy van Waterkloof beëindig, aangesien die Klofies sedet 2015 drie jaar lank as kampioen in die toernooi geheers het.
Nadat Waterkloof in die kwarteindstryd ‘n maklike oorwinning van nege paaltjies oor Hoërskool Marais Viljoen van Alberton behaal het, kon hulle ook daarin slaag om Hoërskool Monument van Krugersdorp in die halfeindstryd te verslaan.
Danksy puik boulwerk van Hardus Coetzer (6/17), Wernich van Dyk (2/6) en Albert Wells (2/12), is Monnas vir slegs 66 lopies uitgehaal.
Monnas se boulers het daarna hul bes probeer, maar onoorwonne beurte deur Albert Wells (29*) en Jandré Pretorius (19*) het die verdedigende kampioen op ‘n drafstap vir die eindstryd laat kwalifiseer ná ‘n oorwinning met ses paaltjies.
Garsfontein het op hulle beurt ook maklik vir die halfeindstryd gekwalifiseer met ‘n oorwinning van 170 lopies oor Hoërskool Hans Moore van Benoni in die kwarteindstryd.
Hierna moes die Garsies hard werk teen Potchefstroom Volkskool in die halfeindstryd. Die seuns uit Noordwes het eerste gekolf en ‘n baie goeie telling van 279 lopies aangeteken. Reynecke Shaikh (3/34) en Ruben van Niekerk (3/50) het hulle deel gedoen om die Noordwesters uit te boul.
Christiaan Oberholzer se onoorwonne 114 en kaptein Robert Ferreira se puik 102 lopies het die Garsies egter gehelp om uiteindelik ‘n telling van 280/8 aan te teken om die wedstryd met twee paaltjies te wen.
In die eindstryd was Waterkloof eerste voor die penne. Danksy Simeon de Bruyn se 62, Ludwig Kaestner se 49 en Karel Verhoef se onoorwonne 36 het die Klofies ‘n baie goeie 240/6 in hul 50 boulbeurte behaal.
Vir Garsfontein het Jethro Duigan (2/29) en Juandré Scheepers (2/46) die meeste skade met die bal aangerig.
Hierna moes die Garsies teen net meer as 4,8 lopies per boulbeurt kolf om hul bure te onttroon as kampioen. Dit was ‘n spanpoging met die openingskolwer en man van die wedstryd, Raynard van Niekerk, se 72 van 96 balle die uitstaande beurt. Ander goeie bydraes is gelewer deur Christiaan Oberholzer (46), Juandré Scheepers (43) en Ruben van Niekerk (24).
Karel Verhoef (2/16), Wernich van Dyk (2/43) en Albert Wells (2/48) was die manne wat Klofies in die wedstryd gehou het met die bal, terwyl Jordan Hermann (1/34) ook goeie werk met sy draaiballe gedoen het.
Garsfontein het uiteindelik daarin geslaag om Waterkloof se totaal verby te steek en met hul telling op 241/8 die wedstryd met twee paalties te wen om vir die eerste keer in die geskiedenis as die beste krieketspan noord van die Vaalrivier gekroon te word.
* Die uitslae in die Gunn & Moore Noordvaal-reeks het nie net weer bewys dat Pretoria-skole tans skolekrieket noord van die Vaalrivier oorheers nie, maar dit beteken ook dat twee van die belangrikste skole-krieket trofees tans in die trofeekaste van plaaslike skole staan.
Garsfontein se oorwinning volg kort op die Hoërskool Menlopark se prestasie in September, toe dié skool as eerste kampioen van die Noord-Suid T20 skoletoernooi gekroon is.
Die Parkies het in die eindstryd van dié nuwe toernooi met nog ‘n plaaslike skool – Centurion – kragte gemeet. Menlopark het die eindstryd teen Centurion met vyf paaltjies gewen.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie


