Local sportSchool sportSport

Midstream College klop twee van hul buurskole om B-bond atletiek-interhoër te wen

Drie skole uit Centurion was Donderdag in ‘n taai stryd gewikkel by Pretoria se B-bond atletiek-interhoër en dit was die opkomende reus, Midstream College, wat uiteindelik as kampioen gekroon is.

Midstream College het hul merkwaardige opgang as eersteklas kompeteerder op die sportveld Donderdag in die Pilditch stadion in Pretoria-Wes tot ‘n nuwe hoogtepunt gedryf deur Pretoria se B-bond atletiek interhoër te wen.

Dié skool uit die suidelike uithoek van Tshwane het verlede jaar net-net in die tweede plek geëindig by dié byeenkoms en vanjaar het hulle daarin geslaag om koning te kraai, nadat hulle met baie strawwe teenstand afgereken het.

Midstream (2471 punte) en Hoërskool Centurion (tweede met 2368 punte) was deur die loop van die byeenkoms  in ‘n titaniese stryd gewikkel.

In die derde plek, kort op Centurion se hakke, was die gasheerskool van die byeenkoms, Hoërskool Eldoraigne, met 2354 punte Hulle is gevolg deur Hoërskool Overkruin (2309 punte), Hoërskool Akasia (1983 punte), Hoërskool Pretoria-Noord (1776 punte), Sutherland High School (1745 punte) en Hoërskool Brits (1632 punte).

Soos die uitslae aandui kan die B-bond interhoër byna as ‘n stryd tussen noord en suid beskou word, met drie skole uit die noorde van Pretoria en vier skole uit die suide wat betrokke was.

Hierdie uitslae beteken dus ook dat Midstream College volgende jaar die kans gaan kry om hul krag teen Pretoria se top skole in die A-bond te toets, terwyl Brits sal afskuif na die C-bond. Vir Midstream, wat nog nie eers 15 jaar oud is nie, is hierdie werklik ‘n merkwaardige prestasie en dié skool kan in die toekoms nog ‘n sportreus in Pretoria se skoolsport geledere word as hulle hierop voortbou.

Eldoraigne se aanbieding van die byeenkoms was op alle vlakke puik en dié skool het ‘n baie hoë standaard gestel vir toekomstige aanbieders van die B-bond interhoër.

Die standaard van die atletiek by die byeenkoms was ook weer op ‘n hoë vlak en verskeie byeenkoms-rekords is verbeter. Ses atlete het op die dag daarin geslaag om prestasies te behaal wat meer as 1000 punte op die bekende ABSA-tabel werd was.

Stiaan Stoltz, ‘n onder-14 seun van Overkruin, was die groot ster van die byeenkoms. Dié jongeling het atletiekkenners se oë laat rek met sy prestasie in die diskus item. Sy beste poging van 57,72 meter het nie net die vorige rekord met meer as 20 meter verpletter nie, maar dit was ‘n volle 1200 punte op die ABSA-tabel werd.

Percy Mathebula van Sutherland se 22,45 sekondes (1006 ABSA punte) in die 200m vir seuns onder-16 was ook merkwaardig, terwyl nog ‘n seun van Overkruin, Vihan Kemp, self uitstekend presteer het met sy 13,51 sekondes in die 100m hekkies, waarvoor hy 1142 ABSA punte verdien het.

Onder die meisies was dit ook ‘n Ovie wat gesorg het vir die beste prestasie. Martie Degenaar het die 400m hekkies vir meisies onder-16 in 62,53 sekondes (973 punte) gewen.

Twee meisies van Midstraem het ook uitgestaan. Linamarie Nothnagel het die hoogspring vir meisies onder-15 met ‘n sprong van 1,60 gewen, terwyl Ashley Williams se tyd van 26,26 in die 200m vir meisies onder-14 ‘n netjiese 952 ABSA punte werd was.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button