Menlopark wéér kampioen by A-bond atletiek interhoër
Hoërskool Menlopark het Vrydag op hul tuis-baan wéér daarin geslaag om as kampioen van die Pretoria A-bond atletiek interhoër gekroon te word.
Die Hoërskool Menlopark het hul titel as Pretoria se A-bond atletiekkampioen vir die agtste jaar agtereenvolgens – sedert die byeenkoms in sy huidige formaat aangebied word – gehandhaaf, terwyl dié atletiekreus vanjaar baie naby aan totale oorheersing op die telbord gekom het.
In die onderskeie afdelings vir seuns en meisies was die spanne van Afrikaans Hoër Seuns (Affies) en Afrikaans Hoër Meisies Pretoria (AHMP) egter weer die onderskeie kampioene, met Menlo se seuns en meisies baie kort op hul hakke.
Trouens, Menlo se seuns- en meisiespanne het albei vanjaar baie naby gekom om dié skool se oorheersing uit te brei. Affies (1358 punte) het Menlo (1341 punte) se seuns met slegs 17 punte geklop, terwyl AHMP (1327 punte) slegs 15 punte voor Menlo se meisies (1312 punte) geëindig het.
Hierdie toedrag van sake het tot gevolg gehad dat die aflos-items aan die einde van die byeenkoms van kardinale belang was en vir groot spanning gesorg het. Veral in die geval van die seuns het Affies met skitter vertonings in die aflosse hul titel behou.
In die spankompetisie het Menlopark (2653) redelik gemaklik met hul teenstanders afgereken. Hoërskool Waterkloof (2108 punte), wat die afgelope paar jaar derde geëindig het by dié byeenkoms, het hul goeie seisoen tot dusver met ‘n tweede plek afgesluit.
Die verrassing van die byeenkoms was Hoërskool Zwartkop van Centurion, wat met 2013 punte in die derde plek geïndig het. Dít is ‘n besondere prestasie en as Zwartkop se getalle in ag geneem word boks dié skool ver bo hul gewig by die byeenkoms.
Prestige College van Hammanskraal (1963 punte), wat die afgelope paar jaar tweede geëindig het by die byeenkoms, het vanjaar na die vierde plek teruggesak. Daarna volg Hoërskool Garsfontein (1859 punte), Hoërskool Montana (1851 punte) en Hoërskool Oos-Moot (1645 punte).
Hierdie uitslag beteken dus dat Oos-Moot volgende jaar weer terug sal skuif na die B-bond om plek te maak vir Midstream College, wat vroeër die B-bond gewen het.
Weens vroeëre onsekerheid oor die beskikbaarheid van die Pilditch stadion in Pretoria-Wes is die byeenkoms vanjaar met groot onderskeiding deur Menlopark op dié skool se sportterrein aangebied.
Soos altyd was die standaard van die atletiek by die byeenkoms besonder hoog. ‘n Totaal van 22 nuwe byeenkomsrekords is opgestel. In drie gevalle het meer as een atleet in diesdelfde item die ou rekord verbeter.
Om die standaard van die atletiek verder te beklemtoon kan genoem word dat ‘n verstommende 57 atlete daarin kon slaag om prestasies te lewer wat meer as 1000 punte op die bekende ABSA tabel werd was, terwyl ses hiervan die hoogste moontlike kerf op dié tabel (1200 punte) kon bereik.
Al die top prestasies (1200 punte) is in velditems behaal – twee elk in gewigstoot, diskus en spiesgooi.
Liam Pavier van Menlopark het volpunte verdien vir sy rekordpoing van 17,82 meter in die gewigstot vir seuns onder-14 en Calvin Scott van Garsfontein het dieselfde gedoen in die gewigstoot vir seuns onder-15.
Menlopark se Hanru Potgieter se 49,63 meter in die diskus vir seuns onder 14 was ook 1200 punte werd, maar nié ‘n rekord nie. Deacon du Preez se 59,58 meter in die diskus was ook 1200 punte werd én dis ‘n nuwe rekord.
Oos-Moot se jong ster, Micyla Botha het ook 1200 punte verdien vir haar nuwe rekord van 41,31 meter in die spiesgooi vir meisies onder-14, terwyl Mckayla van der Westhuizen van Zwartkop se afstand van 45,20 in die spiesgooi vir meisies onder-15 nie ‘n rekord was nie, maar wel volpunte op die ABSA tabel verdien het.
Hoogpringers het ook gesorg vir ‘n paar puik prestasies. Onder dié atlete staan Micyla Botha van Oos-Moot se skitterende nuwe rekord van 1,71m uit. Dié prestasie was nie net 1145 punte op die ABSA tabel werd nie, maar Botha het as 14-jarige die beste hoogte van alle meisies in dié item op die byeenkoms behaal.
Onder die spoedvrate op die baan het ‘n paar vertonings in die 200m wedlope uitgestaan. Veral Echardt Potgieter (Affies; 21,22 sekondes) en Matt Nortjé (Garsfonten; 21,41 sekondes) se tweestryd in die 200m vir seuns onder-17 was besonders. Dié twee seuns het albei die vorige rekord oortref én albei meer as 1000 punte verdien. Veral die feit dat die naellope op ‘n grasbaan plaasgevind het, maak hierdie prestasie uitstaande.
Twee van Montana se middelafstand atlete, Carmie Prinsloo en Talita Homan het aandag getrek met hul vertonings.
Prinsloo het ‘n driekuns behaal in die 800m, 1500m en 3000m vir meisies onder-17. Sy het boonop in die laasgenoemde twee nuwe byeenkomsrekords opgestel én in eersgenoemde twee meer as 1000 punte op die ABSA tabel verdien.
Homan het in die 800m en 1500m ook twee keer die 1000 punte kerf op die ABSA tabel oortref, terwyl haar tyd van 2:16,11 in die 800m ‘n nuwe byeenkomsrekord vir meisies onder-14 is.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.




















































