Klofies gekroon as Titans kampioen van Coca-Cola T20 Skole Uitdaagreeks
Hoërskool Waterkloof se eerste krieketspan het die afgelope naweek deurgedring na die nasionale eindrondte van die bekende Coca-Cola Skole T20 Uitdaagreeks.
Die Hoërskool Waterkloof se krieketspan is oor die eerste hekkie op pad na ‘n herhaling van hul prestasie in 2011, toe hulle as die land se skole T20 kampioen gekroon is.
Klofies het die afgelope naweek met die Cambridge Academy van Witbank afgereken in die eindstryd van die Titans streek in die gesogte Coca-Cola Skole T20 Uitdaagreeks.
Dié span sal die Titans streek nou van 13 tot 17 Maart verteenwoordig by die nasionale eindrondte van die toernooi, wat op die Tuks Ovaal in Pretoria aangebied gaan word.
Vier spanne uit die vier streke wat onder die Titans val het die afgelope naweek by Willowmoore Park in Benoni saamgetrek vir die halfeindstryde en eindstryd van die streekskompetisie. Saam met Waterkloof (Pretoria) was daar Cambridge Academy (Mpumalanga), Hoërskool Ben Viljoen van Tzaneen (Limpopo) en Hoërskool Marais Viljoen van Alberton (Easterns).
In die eerste halfeinstryd het Cambridge Academy teen Marais Viljoen te staan gekom. Die seuns van Witbank het die wedstryd met vier paaltjies gewen.
Klofies moes daarna teen Ben Vorster speel in die ander halfeindstryd. Danksy ‘n puik vyftigtal (55) van die kaptein Jordan Hermann en 29 lopies deur Wehan van Rooyen het Klofies 187/9 aangeteken. Daarna het Hardus Coetzee (3/8) en Om Thakar (3/17) onder die kolwers van Ben Viljoen ingeklim om hulle tot 89/9 te beperk en Waterkloof kon maklik met 98 lopies wen om na die eindstryd deur te dring.
In die eindstryd het Cambridge Academy se kaptein die loot gewen en Klofies ingestuur om eerste te kolf. Hermann (73) was weer die ster met die kolf en hierdie keer is hy bygestaan deur SW Kemp (48) om Waterkloof in staat te stel om 212/5 in hul 20 boulbeurte aan te teken.
Simeon de Bruyn (3/9) en Adi Mosehla (3/13) se boulvertonings het die seuns van Mpumaplanga daarna geknak en die Kofies kon ‘n stewige oorwinning met 122 lopies behaal.
Nou lê die nasionale eindrondte voor vir die Waterkloof spelers en as hulle hul prestasie van 2011 kan herhaal om as nasionale kampioen gekroon te word, sal die skool ook ‘n stewige bedrag van R110 000 ryker wees.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie

