Garsies open spoggerige nuwe sportburo
Hoërskool Garsfontein se nuwe opgegradeerde sportburo sluit ook spoggerige nuwe spreiligte vir hul sportvelde in, wat toeskouers se ervaring by aandwedstrdye in rugby én krieket by die skool dramaties gaan verbeter.
Die Hoërskool Garsfontein se indrukwekkende nuwe sportburo is verlede week amptelik geopen – net betyds vir die aanbieding van die uitgebreide Noord-Suid Rugbytoernooi, wat vanjaar op dié skool se velde beslis gaan word.
Die Noord-Suid toernooi is nie net uitgebrei in terme van meer top rugbyskole wat gaan deelneem nie, maar die skole se tweedespanne sal ook vanjaar deel van die toernooi wees. Dit beteken dat die toernooi, wat oor vier dae vanaf 15-19 Maart aangebied word, ook aandwedstrdye sal insluit.
As deel van die opgradering van Garsies se sportburo is die skool se A-rugbyveld en krieketveld se spreiligte ook met eersteklas nuwe LED-ligte vervang.
Die skool se krieketveld spog nou met kragtige 400 ‘lumens’ ligte, wat goed genoeg is vir TV-uitsendings.
Die A-rugbyveld se nuwe ligte, wat ‘n vermoë van 200 ‘lumens’ het, maak ‘n reuse verskil in vergelyking met die vorige spreiligte rondom die skool se stadion. Garsfontein kan nou met trots aandwedstryde op hul A-rugbyveld aanbied en vir toeskouers sal dié verbetering ook ‘n reuse verskil maak in hul ervaring van die aksie op die veld.
In pas met die meeste top skole in Suid-Afrika is Garsfontein se sportburo nou ook uiters profesioneel toegerus. Die voormalige klubhuis langs die skool se rugbyveld is uitgebou en vergroot tot ‘n drieverdieping gebou. Dié gebou huisves nou nie net onthaalgeriewe nie, maar ook die kantore van alle sportpersoneel.
Geraamde foto’s en uitrustings van voormalige Garsfontein leerlinge wat in verskillende sportsoorte Suid-Afrika op internasionale vlak verteenwoordig het, versier die nuwe buro se mure, terwyl alle nodige geriewe beskikbaar is om die personeel in hul taak by te staan én gaste tydens wedstryde te onthaal.
Op die onderste vlak is die kleedkamer van die skool se eerste rugbyspan ook opgegradeer en dit vergelyk nou waarskynlik goed met die van baie professionele spanne. Die kleedkamer beskik selfs oor ‘n ysbad vir die herstel van seer spiere, ‘n masseertafel en ‘n grootskerm TV-stel, waar die span video-ontledings in die privaatheid van hul kleedkamer kan doen.
Die publieke badkamers by die klubhuis is ook opgegradeer, terwyl ‘n braaiarea tussen die rugbystadion en die krieketveld met ‘n moderne nuwe tent-dak toegerus is vir die gerieflike aanbieding van groter funksies.
‘n Trotse Leon Bantjies, hoof van Garsfontein, het gesê die nuwe fasilteit is in pas met die skool se missie om nie net suksesvol te wees nie, maar eerder visionêr in die projekte wat hulle aanpak. Bantjies het ook die skool se bestuur en die borge van die projek geloof en gesê dié nuwe bate is ‘n getuienis van die positiewe bydrae wat deelnemende ouers by ‘n skool kan maak.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie
