Garsfontein krieketspelers speel teen internasionale teenstand
Die nasionale krieketspan van Namibië het verlede week ‘n eendag wedstryd teen ‘n uitnodigingspan van Hoërskool Garsfontein gespeel.
Verskeie seuns van Hoërskool Garsfontein se eerste krieketspan het verlede week die kans gekry om hul krieketvermoëns teen ‘n senior internasionale span te toets.
Die nasionale span van Namibië, wat eersdaags in Windhoek die gasheerspan van die Internasionale Krieketraad se kampioenskap vir “Afdeling twee”-lande gaan wees, is tans op ‘n kort toer in Suid-Afrika ter voorbereiding vir hierdie toernooi.
Die Namibiërs, wat deesdae deur die gewese hoofafrigter van Tuks, Pierre de Bruyn, afgerig word, hoop ook om daarna voort te gaan en vir die wêreldbeker toernooi van 2023 te kwalifiseer.
Hoërskool Garsfontein se krieket direkteur, Malan Morkel, het in samewerking met De Bruyn dié wedstryd teen ‘n Garsfontein Uitnodigingspan gereël. Dié Garsies Uitnodigingspan het bestaan uit sewe huidige spelers van die skool, terwyl vier senior spelers genooi is om die span te versterk teen hul internasionale teenstand.
Juandré Scheepers, Ivan Kriek en Ruan Kriek, drie van Garsfontein se oud leerlinge, wat almal ook ná skool op eersterangse vlak puik krieket speel, is saam met die Protea- en Titans legende, Albie Morkel, genooi om deel van die Garsies Uitnodigingspan te wees.
Die seuns van Garsfontein het dus nie net teen internasionale teenstand gespeel nie, maar ook die voorreg gehad om in dieselfde span te speel as ‘n legende soos Morkel.
Namibië het eerste gekolf en 187/9 in hul toegelate 40 boulbeurte aangeteken. Jan Frylink (60) was hul beste kolwer, terwyl Scheepers die beste bouler vir Garsies was met sy 5/29 van agt boulbeurte.
Garsies is daarna almal uitgehaal vir 183. Een van die skoolseuns, Christiaan Oberholzer, het die beste gedoen met die kolf. Hy het 50 lopies van 58 balle gemoker teen die senior boulers van Namibië.
Albie Morkel het 38 aangeteken voor hy gestonk is.
Hoewel die Garsies Uitnodigingspan dus hierdie wedstryd net-net verloor het, kon die seuns van Hoërskool Garsfontein waardevolle ondervinding opdoen, terwyl hulle op die veld skouers kon skuur met internasionale spelers.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:






