Local sportSchool sportSport

Gemengde sukses vir Pretoria-skole by Noord-Suid rugbyweek

Die deelnemende skole uit die suide van Suid-Afrika het vanjaar hul tweestryd teen sewe van die beste skole rugbykragte uit Gauteng gewen by die jaarlikse Noord-Suid rugbytoernooi.

Hoewel ten minste twee skole uit Pretoria ‘n bogemiddelde suksessyfer gehandhaaf het by die jaarlikse Noord-Suid skolerugby toernooi wat verlede week by Hoërskool Garsfontein afgehandel is, het die suidelike skole net-net dié stryd gewen.

Die sewe skole uit die suide se eerste- en tweedespanne het daarin geslaag om 14 oorwinnings te behaal, terwyl die Gauteng-skole met 13 oorwinnings kon spog. Een wedstryd het gelykop geëindig.

Van die vier plaaslike deelnemers uit Pretoria by dié gesogte rugbytoernooi, was dit net Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) wat ‘n 100% suksessyfer kon behaal met vier oorwinnings uit vier wedstryde.

Hoewel Affies se eerstespan in beide hul wedstryde klippe gekou het om bo uit te kom, het hulle veral op die laaste dag met hul veggees teen ‘n gedetermineerde span van Hoërskool Outeniqua beïndruk.

Affies se tweedes het redelik maklike oorwinnings oor Hoërskool Stellenberg (31-14) en Hoërskool Outeniqua (59-15) behaal.

Vir die eerstes van Affies het sake egter moeiliker verloop. Hulle het eers ‘n taai stryd teen die seuns van Stellenberg met 28-21 gewen en daarna ‘n reuse aanslag van Outeniqua afgeweer om dié Suid-Kapenaars met 27-20 te klop.

Affies se stryd teen Outeniqua was een van die beste wedstryde van die toernooi en veral die fisieke tweestryd tussen die twee pakke voorspelers was iets waaraan skolerugby liefhebbers hulle kon verlustig.

Die Pretorianers is in die eerste helfte behoorlik opgekeil, maar hulle het in die tweede helfte teruggeveg om net-net die oorhand te kry.

*  Die gasheer-skool, Hoërskool Garsfontein, het ‘n 75% suksessyfer gehandhaaf deur drie van hul vier wedstryde te wen.

Garsies se tweedes het dié skool se rugby-diepte bewys deur met twee van die groot name uit die suide af te reken.  Hul eerste slagoffer was Outeniqua (32-19), terwyl hulle ook ‘n baie indrukwekkende oorwinning van 16-15 oor Grey Kollege se tweedes behaal het.

Die tuisskool se eerstes het goed afgeskop deur Outeniqua se bestes met  28-24 te klop. In die laaste wedstryd van die toernooi het hulle egter teen Grey Kollege vasgeval.

Hoewel die eindtelling 30-53 in die Vrystaters se guns was, kan dit beslis nie as ‘n getroue weergawe van die stryd beskou word nie. Die Bere van Garsfontein het baie goed van hulself rekenskap gegee in dié wedstryd, wat teen ‘n reuse tempo gespeel is. Die groot verskil was egter die seuns van Bloemfontein se meesterlike vertoning by die afbreekpunte, waar hulle die tuisspan ore aangesit het en vir hulself baie geleenthede geskep het.

* Hoërskool Waterkloof se spanne kan redelik tevrede voel met hul vertonings by die toernooi. Beide hul eerstes en tweedes het een keer gewen en een keer verloor. Hoewel die twee nederlae telkens met enkele punte was, het die Klofies se eerstes op die laaste dag amok gemaak met hul reuse oorwinning van 63-15 oor Durbanville, waartydens hulle nege drieë ingeryg het.

Klofies se eerstes het in hul eerste wedstryd naelskraaps (31-36) teen Boland Landbouskool verloor.

Vir Waterkloof se tweedes het sake andersom verloop. Terwyl hulle hul eerste wedstryd maklik (38-15) met Boland Landbouskool afgereken het, het hulle verlede Maandag net-net (15-16) teen Durbanville verloor.

* Hoërskool Menlopark se spanne het ongelukkig ‘n teleurstellende toernooi beleef, hoewel ‘n mens moet bysê dat die loting aan hulle twee baie taai teenstanders besorg het.

Die Parkies se tweedes het op dag een met 3-26 teen Grey Kollege verloor, terwyl hul stryd teen Paarl Gimnasium ook op ‘n nederlaag (10-42) uitgeloop het.

Dieselfde lot het Menlopark se eerstes getref, toe hulle verlede Saterdag met 28-57 deur Paarl Gimnasium oorrompel is.

Van die drie ander skole uit Gauteng, wat ook die noorde verteenwoordig het, het Helpmekaar Kollege die beste gevaar, terwyl Hoërskool Dr. EG Jansen ‘n 50% wenpersentasie kon handhaaf.

* Helpmekaar se tweedes het hul eerste wedstryd teen Hoër Jongenskool Paarl (ook bekend as Paarl Boys High of net Boishaai) met 5-31 verloor, maar kon Maandag daarin slaag om Boland Landbou met 26-21 te klop.

Nadat Helpies se eerstes op dag een gelykop (20-20) teen Hoër Jongenskool Paarl gespeel het, het hulle Dinsdag teruggebons en Boland Landbouskool behoorlik afgestof met ‘n telling van 64-18.

* EG Jansen se tweedes het eers met Durbanville (31-17) afgereken, waarna hulle met 14-26 teen Stellenberg vasgeval het.

Die seuns van Boksburg se eerstes het Durbanville met 30-18 geklop, maar op die laaste dag teen met 32-42 teen Stellenberg verloor.

* Hoërskool Monument van Krugersdorp was saam met Menlopark die ander groot teleurstelling van die toernooi en hulle kon ook nie ‘n enkele oorwinning behaal nie.

Monnas se tweedes het teen Paarl Gimnasium (7-30) en teen Hoër Jongenskool Paarl (17-25) verloor.

Die Wes-Randers se eerstes het teen Paarl Gimnasium met 29-43 vasgeval, terwyl hulle op die laaste dag hard geveg het, maar steeds met 31-35 teen Hoër Jongenskool Paarl verloor het.

 

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button