Skitterende aksie by AHMP se Prestige netbaltoernooi
Die vyfde jaarlikse Prestige netbaltoernooi van Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria het verlede week byna 700 spelers na dié skool se netbalbane gelok.
Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) se jaarlikse Prestige netbaltoernooi het vanjaar 18 skole vanoor die hele land én uit Namibië na Pretoria gelok vir drie dae van puik netbal aksie.
Die jaarlikse toernooi, wat vanjaar reeds sy vyfde bestaansjaar kon vier, het voorsiening gemaak vir alle ouderdomsgroepe van onder-14 tot onder-18 spanne.
Vyf van die land se provinsies is by die toernooi verteenwoordig, terwyl die teenwoordigheid van Windhoek Gimnasium aan die toernooi ‘n internasionale status gegee het.
Altesaam 73 spanne het die 18 deelnemende skole by die toernooi verteenwoordig. Dit beteken dat ongeveer 700 netbalspelers tydens dié toernooi op die bane van AHMP in aksie was.
Hoewel slegs vier skole uit Pretoria deel van hierdie toernooi was, het plaaslike spanne besonder goed presteer en al vyf die ouderdomskategorieë is deur skole uit Pretoria gewen.
AHMP het kop en skouers bo die res uitgestaan deur in die ouderdomsgroepe onder-14, onder-15, onder-17 en onder-18 koning te kraai. Hoërskool Garsfontein het die afdeling vir onder-16 spelers gewen, terwyl Hoërskool Zwartkop tweede was met AHMP in die derde plek.
Die organiseerders van die toernooi het vooraf kenners aangewys wat die meisies op die baan kon dophou en na afloop van die toernooi is die individuele presteerders beloon vir hul puik spel. In elke ouderdomsgroep word die beste doelgooier, beste aanvallende speler en beste vededigende speler aangewys.
In die ouderdomsgroepe onder-14, onder-15, onder-16 en onder-17 word daar ook ‘n mees belowende speler aangewys.
By die onder-18’s word die beste speler met die titel van Speler van die Toernooi bekroon. Vanjaar het Xania van der Walt van AHMP dié eer te beurt geval.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:


