Menlopark gaffel Waterkloof, Garsies verloor teen Monnas
Pretoria se top rugbyskole het nie ‘n gelukkige naweek beleef nie en slegs Menlopark kan spog met ‘n oorwinning.
Hoërskool Menlopark het vriend en vyand die afgelope Saterdag verras met die wyse waarop hulle die jaarlikse derby teen hul ou aatsvyand, Hoërskool Waterkloof, met groot gemak gewen het.
Die wedstryd is op Waterkloof se veld beslis, maar Menlopark het hulle nie aan hul teenstander se tuisveldvoordeel gesteur nie. Die Parkies het agt drieë ingeryg om die wedstryd uiteindelik maklik met 55-21 te wen.
Hierdie uislag sou as ‘n skok gekom het vir Klofies se ondersteuners, aangesien hulle tot dusver vanjaar ‘n redelik goeie seisoen beleef het. Dit sou veral moeilik wees om te verwerk ná die Klofies se skok-oorwinning ‘n week tevore teen Hoërskool Monument, wat skitterend op dreef is en vroeër vanjaar ook met Menlopark afgereken het.
Waterkloof kon net drie drieë druk in ‘n wedstryd waarin hulle van die begin af oorheers is deur hul bure. Teen rustyd was Menlo reeds met 27-7 voor.
Dit was Waterkloof se tweede groot nederlaag in ‘n Pretoria-derby, nadat hulle vroeër ook teen Hoërskool Garsfontein verloor het.
Menlopark is na die oorwinning steeds onoorwonne in die Virskeerkbeker toernooi.
* Die Garsies se Bere het ook hul eerste nederlaag gely in die Virsekerbeker toernooi, toe hulle Saterdag op hul tuisveld teen Monument met 29-32 verloor het.
Dit was ‘n klipharde en spannende stryd wat Garfontein baie maklik kon gewen het, as hul skoppers se viser beter ingestel was.
Garsies het vyf drieë gedruk, terwyl die seuns van Krugersdorp slegs vier keer oor die doellyn is. Ongelukkig kon Garsfontein se skopper slegs twee drieë verdoel, terwyl Monnas se skopper drie doelskoppe en twee strafdoele deur die pale gejaag het.
* Afrikaans Hoërs Seunskool (Affies) het Saterdag in Bloemfontein ook hul rieme styfgeloop teen hul ou aartsvyand, Grey Kollege.
Grey het Affies behoorlik ore aangesit en die wedstryd met 50-28 gewen.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.















