Eldoraigne domineer hul bure in Classic Clash
Hoërskool Eldoraigne se onderskeie eerstespanne het Saterdag op hul tuisvelde in rugby, hokkie en netbal skoonskip gemaak teen hul bure en aartsvyand, Hoërskool Zwartkop, tydens ‘n Classic Clash sportdag.
Die Hoërskool Eldoraigne het die afgelope naweek hul oorheersing van Classic Clash derbies teen hul bure, Hoërskool Zwartkop, voortgesit.
Al vier Eldoraigne se eerstespanne (rugby, netball, meisies-hokkie en seuns-hokkie) het oorwinnings behaal oor hul eweknieë van Zwartkop.
Eldo’s se netbalspan het met 31-29 gewen, die meisies hokkiespan was met 4-0 baas en die seuns hokkiespan het Zwarries met 4-2 geklop.
Die hoogtepunt van die dag se sportgebeure was die eerstespan rugbywedstryd, wat met 36-12 deur Eldoraigne gewen is.
Sedert die eerste Classic Clasch tussen die twee skole in 2007 plaasgevind het, was Eldoraigne se eerste rugyspan nou reeds 11 keer aan die wenkant, terwyl Zwartkop slegs in 2012 en 2016 hul bure op die rugbyveld kon klop.
Teen rustyd was die wedstryd nog in die weegskaal en Zwartkop het gedreig om te verras deur voor te loop met 12-7.
Die Zwarries het in die eerste helfte verwoed verdedig en boonop die twee enigste kanse wat hulle gekry het in punte omskep, toe heelagter Pierre Smit en die span se hardwerkende kaptein en agtsteman, Raymond Dodd, albei gedruk het.
Hoewel Eldoraigne van die begin af die vaste fasette – en veral die skrums – oorheers het, kon hulle dié voordeel in die eerste helfte nie na behore benut nie.
In die tweede skof het Barend Bezuidenhout en sy manne egter momentum opgebou weens hul oorheersing voorlangs en dít het Zwartkop se weerstand laat kwyn.
Bezuidenhout, ‘n kragtige vaskopstut en kaptein wat deur voorbeeld lei, het self twee van sy span se vier drieë ná rustyd gedruk.
Agterlangs was losskakel Marven Petersen vol planne met baie spoed van die merk af en hy het Zwartkop se verdedigingslyn ‘n paar keer gebreek. Sy skrumskakel, FJ Griesel, het ook ‘n afgeronde vertoning gelewer en veral in die tweede helfte sy voorspelers se oorheersing slim tot die span se voordeel gebruik.
Saam met Dodd het die slot Romario Dias vir Zwartkop sy hart uitgespeel, terwyl buitesenter Keanu Coetzee ‘n speler met baie potensiaal is.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


