Rugbyklub vra hulp van publiek ná vandalisme
Na maande se vrugtelose stryd om die Tshwane Stadsraad se hulp te probeer kry om hul gevandaliseerde klubfasiliteite te herstel, het die bestuur van die Jan Niemandpark rugbyklub nou die publiek se hulp ingeroep.

Die Jan Niemand Park rugbyklub in Stegmanstraat, East Lynn, beleef tans hul grootste krisis in hul bestaan van 66 jaar.
Dié klub, wat sedert hul stigting in 1953 reeds by die Blou Bulle geaffilieer is en oor die jare in verskillende ligas van dié rugby-unie gekompeteer het, se eerstespan is die huidige Carltonbeker C-liga kampioen.
‘n Groot terugslag het die klub egter in Desember 2018 getref toe hul fasaliteite deur vandale geteiken en beskadig is. In sommige gevalle is dele van die klub se geboue en struktuur van die Jack le Roux sportkompleks (waar die rugbyklub gesetel is) byna vernietig.
Wasbakke en toilette is skukkend gebreek, toiletdeure is afgebreek en verwyder, sekuriteitshekke is afgebreek en elektriese verspreidingskaste is oopgebreek om drade te kan verwyder. Verskei ander dele van die klub se vaste struktuur is ook gevandaliseer.
Volgens Morgen Pienaar van Jan Niemandpark Rugbyklub voer hulle sedertdien ‘n stryd om hulp van die stadsraad te kry om hul fasiliteite te herstel, maar tot dusver is daar nog nie veel uitgerig nie.
“Die stadsraad se standpunt is dat ons as klub verantwoordelik is vir die instandhouding van die fasiliteit. Ons het in hierdie opsig nog altyd ons verantwoordelikheid nagekom, maar die huidige krisis is nie die gevolg van swak instandhouding nie, dis vandalisme. Dis die gevolg van kriminele se aanslag teen die klub en daar bestaan ‘n saaknommer by die SAPD in verband met die saak,” het Pienaar gesê.
Pienaar het aan Rekord gesê dat die bestuur tans uit hul sakke opdok vir kragopwekkers, sodat die spelers saans onder spreiligte kan oefen.
Volgens Pienaar speel hulle egter Saterdae hul wedstryde by ‘n ander klub, aangesien daar geen toiletfasiliteite by die klub oorgebly het ná die vandalisme nie.
Pienaar het gesê die klubfasiliteite is nie uitsluitlik vir rugby nie en ander sportsoorte kan ook daar beoefen word.
“Enige lid van die publiek is welkom om by ons klub aan te sluit ongeag die sport wat hulle beoefen. ‘n Minimale lidmaatskapfooi is wel betaalbaar om normale instandhoudingskoste te dek,” het hy gesê.
Pienaar het beklemtoon dat die frustrasie van die klub se bestuur by breekpunt is en hulle het geen ander keuse as om die gemeenskap se hulp in te roep nie.
“Ons vra dus die gemeenskap om te help, sodat ons weer ons klub kan beveilig en die skade aan die gebou kan herstel, sodat dié klub weer ‘n bate vir die mense van East Lynn en Jan Niemandpark kan wees,” het Pienaar verduidelik.
Enigiemand wat kan help kan Morgan Pienaar kontak by 082 897 1137.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.











