Garsfontein klop Menlopark, Affies ook terug op die wenpad
Garsfontein het hul rekord teen plaaslike teenstanders van Pretoria in die VirSekerbeker reeks ongeskonde behou toe hulle die afgelope naweek met Menlopark afgereken het.
Die Hoërskool Garsfontein het, ná verlede week se nederlaag teen Hoërskool Monument, Saterdag in die VirSekerbeker toernooi teruggebons met ‘n oorwinning oor Hoërskool Menlopark, terwyl Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) ook terug is op die wenpad ná hul pakslae teen Grey Kollege verlede week.
Vir Hoërskool Waterkloof was hul besoek aan King Edward School (KES) in Johannesburg egter minder suksesvol, maar dié wedstryd was gelukkig slegs ‘n vriendskaplike bepaling.
* Pretorianers wat die VirSekerbeker reeks volg se aandag was Saterdag op die sportvelde van Menlopark, waar dié skool in ‘n wedstryd in die Beker-afdeling van die reeks teen hul bure, Garsfontein, te staan gekom het.
Menlopark was tot dusver onoorwonne in die VirSekerbeker toernooi, terwyl die druk op Garsies se Bere was ná verlede week se nederlaag teen Monnas.
Hoewel Menlopark eerste die doellyn kon haal met ‘n puik langafstand drie deur hul opwindende heelagter, Lincoln Adams, het Garsfontein byna dadelik teruggeslaan toe haker Manie Potgieter onder die pale oorgedryf het.
Garsies se linkervleuel Geraldo Flusk het daarna waarskynlik die drie van die dag gaan druk nadat sy heelagter, Zeilinga Strydom skitterend by die agterlyn aangesluit het en die spasie vir Flusk geskep het met ‘n lang aangee.
Adams se tweede drie, na nóg ‘n langafstand beweging, het gesorg dat die wedstryd teen rustyd nog in die weegskaal was met die telling op 17-14 in Garsies se guns.
In die tweede helfte het Garsfontein gou hul ritme gevind en ook hul balbesit beter beskerm, wat aan Menlo minder kanse gebied het. Vir ‘n halfuur lank was dit eenrigting verkeer, met Menlopark wat hoofsaaklik moes verdedig, aangesien Garsfontein ten opsigte van balbesit en gebiedsvoordeel oorheers het.
Ten spyte van twee geelkaarte teen hulle het die Bere van Garsfontein nog vier keer gaan druk. Agtsteman Dupré Wessels (2), plaasvervanger vleuel, Neil Gericke en vaskop stut Gerhard van der Merwe was die manne wat afgerond het.
Die seuns van Menlopark moet krediet kry vir die feit dat hulle enduit aanhou veg het en daarvoor is hulle in die laaste vyf minute met twee drieë deur loskopstut Nolan Pienaar en skrumskakel Jano Joubert beloon.
Menlopark pak Helpmekaar eerskomende naweek, terwyl Garsfontein eers na die skoolvakansie weer in aksie sal wees.
* Waterkloof se wipplank-seisoen duur voort, nadat hulle die afgelope naweek in ‘n vriendskaplike wedstryd teen KES verloor het. Die Johannesburgers het met 29-13 gewen.
Die Klofies het ‘n paar moeilike weke wat voorlê, aangesien hulle voor die wintervakansie nog teen Noordheuwel (Saterdag 8 Junie) en Dr. EG Jansen (Woensdag 12 Junie) moet speel in VirSekerbeker bepalings.
* Affies se ongehoorde reeks nederlae (drie agtereenvolgens) is die afgelope naweek vir eers verbreek met hul goeie oorwinning van 47-28 oor Jeppe.
Affies beleef, volgens hul eie standaarde, ‘n baie gemiddelde seisoen, maar daar lê nog drie belangrike wedstryde ná die skoolvakansie voor. Eers pak hulle een van hul ou vyande uit KwaZulu-Natal, Maritzburg College (13 Julie) en dan volg twee tradisionele Pretoria derbies wanneer hulle teen Waterkloof (20 Julie) en Pretoria Boys High (27 Augustus) sal uitdraf.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.




