Affies vermorsel Maritzburg College, Garsies en Menlo verbeter hul Virsekerbeker posisies
Affies se reuse oorwinning van die afgelope naweek oor Maritzburg College is waarskynlik ‘n nuwe rekord vir rugbywedstryde tussen dié twee spogskole, terwyl Garsfontein en Menlopark albei goeie oorwinnings in die Virsekerbeker reeks behaal het.
Die eerstespan van Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) het kenners van skolerugby die afgelope Saterdag na die rekordboeke laat gryp toe hulle een van hul oudste vyande, Maritzburg College van KwaZulu-Natal, met 78-16 verneder het.
Sover bekend is dit die hoogste telling wat Affies in ten minste 25 jaar oor dié spogskool van Pietermaritzburg behaal het. Volgens amptelike bronne is dit beslis die eerste keer sedert 1996 dat die Pretorianers meer as 60 punte teen Maritzburg College kon opstapel.
Die seuns van Pretoria het twaalf keer agter die doellyn gaan kuier tydens Saterdag se wedstryd, terwyl Maritzburg College slegs twee drieë kon druk.
Affies was teen halftyd reeds met 28-11 voor, maar in die tweede helfte het die Wit Bulle die krane oopgedraai en die drieë ingeryg.
Vir Affies, wat tot dusver vanjaar ’n gemiddelde seisoen beleef het as dié span aan die skool se eie standaarde gemeet moet word, sal hierdie oorwinning baie selfvertroue bring vir hul laaste twee wedstryde van die seisoen, wat albei tradisionele Pretroia-derbies is.
Eerskomende Saterdag speel Affies op hul tuisveld teen Hoërskool Waterkoof. Die Klofies beleef ook ‘n wisselvallige seisoen, maar kan beslis nie onderskat word nie. Hulle het vanjaar al ’n paar groot skolerugby kragte in die stof laat byt en is die enigste span uit die noorde van die land wat Monument van Krugersdorp tot dusver vanjaar kon klop.
Affies se laaste wedstryd van die jaar is op 27 Augustus, wanneer hulle in Pretoria se grootste jaarliks skolerugby derby teen hul bure van oorkant die treinspoor, Pretoria Boys High, sal speel.
– Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Menlopark het albei die afgelope naweek met goeie oorwinnings beide gesorg dat hulle nog kandidate vir die halfeindrondte in die Virsekerbeker liga bly.
Die Garsies het verras deur Dr. EG Jansen van Boksburg ‘n reuse pakslae te gee. Die eindtelling van 80-39 in die Garsfontein Bere se guns.
Garsfontein is steeds tweede op die punteleer, maar kan eerskomende naweek in die eerste plek insluif as hulle met die voorlopers, Helpmekaar Kollege, kan afreken. Dié wedstryd word op Helpies se veld beslis.
– Menlo se oorwinning van 69-32 oor Transvalia het hulle gehelp om Waterkloof uit die vierde plek op die puntelys te dwing.
Die Parkies behoort hierdie posisie eerskomende naweek te verstewig wanneer hulle die sukkelende HTS Middelurg tuis in Pretoria aandurf.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie
