Garsies en Menlo verstewig hul posisies, Affies klop Klofies
Na goeie oorwinnings is Garsfontein en Menlopark stewig gevestig op die Virsekerbeker punteleer en dit lyk of hulle albei vir die halfeindrondte kan kwalifiseer.
Wat die seuns van Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan ookal tydens die skoolvakansie gedoen het om hul spelpeil te verbeter, het beslis gewerk.
Dié span het vir die tweede week agtereenvolgens behoorlik met een van hul top teenstanders afgereken in die Virsekerbeker toernooi.
Ná Saterdag se reuse oorwinning van 50-22 teen Helpmekaar, het Garsfontein dié Johannesburgers ook verbygesteek en hulle is die nuwe voorlopers op die punteleer van die Beker-afdeling (top skole) in dié rugbytoernooi.
Hierdie puik oorwinning het Garsfontein boonop op Hepies se tuisveld in Johannesburg behaal, wat die telling selfs meer besonders maak.
Die Garsie Bere behoort hierdie posisie verder te verstewig in hul laaste twee ligabepalings, wanneer hulle die twee agterosse in die liga – Noordheuwel en Transvalia – oor die volgende twee naweke aanvat.
– Hoërskool Menlopark het in die vierde plek op die punteleer ingeskuif ná hul stewige oorwinning van 64-47 teen HTS Middelburg.
Menlo het egter ten minste een baie taai ligabepaling wat voorlê, wanneer hulle een van die ander gunstelinge, Monument van Krugersdorp, op 3 Augustus pak.
Eerskomende naweek kan die Parkies seker maak dat EG Jansen as halfeindstryd kandidaat uitgeskkel word waneer die twee skole mekaar op laasgenoemde se tuisveld in Boksburg pak.
– Die enigste ander span wat Menlopark nog uit die halfeindstryd kan hou, Hoërskool Waterkloof, het die afgelope naweek hul Pretoria derby teen Afrikaans Hoër Seunskool met 27-44 verloor.
Klofies het goed vasgebyt en teen rustyd was hulle nog in die wedstryd met ’n agterstand van slegs nege punte (15-24).
Affies het egter oudergewoonte ná rustyd die krane oopgedraai en nog 20 punte aangeteken, terwyl die moedige Kofies slegs 12 punte kon byvoeg.
Waterkloof se aandag sal eerskomende naweek terug wees by die Virsekerbeker toernooi en hulle reis na Johannesburg om Helpmekaar te pak.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie
