Local sportSchool sportSport

Boys High skok Affies, Klofies en Parkies veg om oorlewing in Virsekerbeker

Terwyl Affies se eerste rugbyspan die afgelope naweek verrassend vasgeval het teen hul aartsvyand, Pretoria Boys High School, sal Menlopark en Waterkloof albei eerskomende naweek in hul laaste Virsekerbeker ligabepalings om oorlewing in dié toernooi veg.

Die terugkeer van van ’n ervare rugbyman soos Paul Anthony na Pretoria Boys High School (PBHS) as rugby-direkteur het gouer dividende gelewer as wat selfs dié deurwinterde afrigter se grootste ondersteuners sou kon dink.

Boys High, soos dié tradisieryke Engelse seunsskool algemeen bekendstaan, het die afgelope Saterdag daarin geslaag om hul aartsvyand van oorkant die treinspoor langs Universiteitsweg vir die eerste keer in elf jaar in hul jaarlikse derby op die rugbyveld te klop.

Die eindteling van dié opwindende wedstryd was 38-21 in Boys High se guns.

Met hierdie oorwinning het PBHS ’n droogte van elf jaar verbreek. Hul vorige oorwinning oor Affies wat in 2008, toe PBHS dié grootste Pretoria derby met 21-15 gewen het.

Anthony het oorspronklik naam gemaak as skole-afrigter by PBHS, waar hy ook by die Blou Bulle se Cravenweekspan betrokke geraak het. Daarna het hy voltyds by die Blou Bulle aangesluit om afrigter van die junior spanne te word. Later is hy deur een van sy oud spelers, John Smit, na Durban gelok om by die Sharks se Curriebeker span betrokke te raak.

Dié gewilde afrigter het aan die begin van 2019 teruggekeer na Pretoria om weer by PBHS as rugbydirekteur betrokke te raak. Saterdag het hy presies gewys hoe invloedryk sy insette kan wees.

– Intussen staan die Virsekerbeker reeks einde se kant toe en slegs Hoërskool Garsfontein kon die afgelope naweek hul posisie op die puntelys van dié toernooi verstewig.

Die Garsies Bere het hul voorlaaste ligaverpligting in die Virsekerbeker toernooi teen Noordheuwel van die Wes-Rand verspotmaklik met 68-24 gewen. Daarmee het die Garsies hul plek bo aan die punteleer in die top Beker-afdeling van die reeks behou.

Intussen het Helpmekaar Kollege die afgelope naweek hul verpligtinge voltooi en hulle kan Garsfontein nie meer inhaal nie. Die Bere van Garsfontein moet dus net eerskomende naweek met die reeks se agteros, Transvalia, afreken om eerste op die puntelys te eindig.

Hoërskool Menlopark het hulself ’n onguns aangedoen met hul nederlaag van 17-29 teen EG Jansen.

Dié nederlaag beteken dat die Parkies eerskomende naweek op hul tuisveld móét wen teen een van die ander gunstelinge in die toernooi, Monument van Krugersdorp, as hulle seker wil maak van kwalifikasie vir die halfeindrondte.

Monnas is tans derde op die punteleer en hulle sal self veg vir ’n oorwinning om Helpemaar op die punteleer verby te steek.

Indien Menlopark teen Monnas verloor, kan hulle deur òf Waterkloof òf EG Jansen uitgeskakel word. EG Jansen speel eerskomende naweek in hul laaste ligabepaling teen Noordheuwel.

Hoërskool Waterkloof se nederlaag van 24-36 teen Helpmekaar die afgelope naweek het dié laaste aanspraakmaker van Pretoria ook onder druk geplaas.

Die Klofies is tans in die vyfde plek op die punteleer – een punt agter Menlopark en een punt voor EG Jansen. Hulle sal dus ook eerskomende naweek móét wen in hul laaste bepaling teen HTS Middelburg. Die wedstryd word op laagenoemde se veld in Middelburg gespeel.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button